Cover for Die Taalkommissie
Page likes: 13,556

Die Taalkommissie

(opens in a new tab)

Die Taalkommissie (TK) van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns

1 week gelede

Die Taalkommissie
Vandag, 14 Augustus, vier ons Afrikaanse Taaldag! Hoewel Afrikaans nie ’n enkele geboortedag of -plek het nie, word 14 Augustus as ’n simboliese verjaardag van Afrikaans gevier, omdat die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op dié dag in 1875 gestig is – ’n belangrike gebeurtenis in die beweging om Afrikaans as skryf-, skool- en kanseltaal te erken. Vandag vier ons Afrikaans in sy volle omvang: al sy variëteite, tongvalle en vorme, en die verskillende gemeenskappe wat die taal lewendig hou. Hoewel die Taalkommissie se spesifieke opdrag die kodifisering van geskrewe, algemene Afrikaans is, erken ons die waarde en belang van die breë Afrikaanse taalgemeenskap. Ons vier ook die belangrike rol wat die Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns oor meer as ’n eeu gespeel het in die ontwikkeling en bevordering van Afrikaans as ’n taal van wetenskap, kennis, letterkunde en kuns. ...
View on Facebook (opens in a new tab)

4 weke gelede

Die Taalkommissie
In Sondag se 𝘙𝘢𝘱𝘱𝘰𝘳𝘵 reageer Suléne Pilon op Carryn-Ann Nel se lesersbrief van 12 Julie, waarin sy aangevoer het dat woorde soos "smaakmaker" en "toep" kunsmatig is – sogenaamde "laboratoriumwoorde" – wat sy nooit sal gebruik nie, omdat Afrikaans volgens haar "geskep word soos ons doen en praat en dink."In haar reaksie wys Suléne daarop dat daar geen taalkundige rede is waarom woorde soos "huidiglik", "smaakmaker" of "toep" nie gebruik sou "mag" word nie. Ons reaksies op woorde word dikwels eerder deur persoonlike ervarings, emosionele assosiasies, klank en die invloed van ander sprekers gevorm as deur taalreëls.Woorde is immers nie bloot etikette wat ons aan dinge toeken nie. Hulle dra herinneringe, emosies, vooroordele en persoonlike ervarings saam. Daarom laat sommige woorde ons glimlag, ander ontroer ons, en nog ander laat ons behoorlik gril. Uiteindelik is dit die spraakgemeenskap wat besluit watter woorde posvat. Elke woord was immers eens nuut – en as 'n woord ingeburger raak, word dit deel van die taal. Daarom sê ons reaksie op 'n woord dikwels meer oor ons eie ervaring daarmee as oor die woord self.www.netwerk24.com/stemme/menings/laat-snor-jou-gril-dis-wat-maak-dat-jy-n-woord-smaak-of-nie-2026... ...
View on Facebook (opens in a new tab)

2 maande gelede

Die Taalkommissie
Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) is besig om na sy nuwe tuiste te verhuis en kan nou op 'n splinternuwe webblad, moontlik gemaak deur Maskew Miller Learning, geraadpleeg word.As jy reeds via VivA Afrikaans op die HAT ingeteken is, hoef jy niks nuuts te doen nie – gebruik eenvoudig jou bestaande HAT-intekenbesonderhede om aan te meld, wat jy onder onder "Subskripsies" op VivA se blad vind.En die beste nuus? Die webweergawe word deurlopend intyds bygewerk, sodat jy altyd toegang tot die jongste inhoud het.Probeer dit nou: www.mmlhat.co.za ...
View on Facebook (opens in a new tab)

2 maande gelede

Die Taalkommissie
Taalkommissie-voorsitter Suléne Pilon het laas Sondag vir Ina vertel van navorsing oor die passiefkonstruksie (lydende vorm). Sy fokus veral op die verledetydvorm van die passiefkonstruksie in Afrikaans, wat met behulp van die omskrywingshulpwerkwoord “is” en die verledetydvorm van die hoofwerkwoord gevorm word.In Afrikaans kry ’n mens tipies twee tipes passiefsinne, naamlik die agenspassief, waar die agent wat die handeling uitvoer – oftewel die subjek van die aktiewe sin (bedrywende vorm) – genoem word (bv. “Die kar is deur die sindikaat gesteel”), en die agenlose passief, waar die agent ontbreek of weggelaat word (bv. “Die kar is gesteel”). Laasgenoemde word veral gebruik wanneer die agent onbekend is, om aanstoot te vermy, en in formele kontekste, soos akademiese skryfwerk.Wat egter besig is om te gebeur, is dat “was” toenemend in hierdie verledetydpassiefkonstruksie gebruik word, sowel in gesproke as geskrewe taal (bv. “?Die boek was deur Antjie Krog geskryf”). Met ’n ondersoek van die 2023-gedeelte van die NWU-Kommentaarkorpus het Sulene bevind dat die agenlose passief aansienlik meer as die agenspassief voorkom, en dat “is” en “was” bykans ewe veel keer in hierdie konstruksie gebruik word.’n Verdere interessante verskynsel is dat “wees” (bv. “Oor ’n honderd jaar sal daar steeds net mooi niks gedoen wees nie”) en “gewees” (bv. “Sy moes lank terug al aangekla gewees het”) óók toenemend in die passiefkonstruksie voorkom. Volgens haar is hierdie verskynsels onder meer toe te skryf aan die invloed van die Engelse passiefkonstruksie, asook die moontlike verwarring met die kopulakonstruksie in Afrikaans (wat met “was” in die verlede tyd gevorm word, soos in “Ek was moeg”).(Kyk hier vir die verskil tussen “is” as omskrywingshulpwerkwoord en as koppelwerkwoord: viva-afrikaans.org/nuus/item/498-oor-is-en-was)Luister die volledige podsending hier:www.rsg.co.za/rsg-fm/potgooisnitte/taaldinge-die-passiefkonstruksie-in-afrikaans-wat-is-besig-om-... ...
View on Facebook (opens in a new tab)

Nou op X