TK-nuus

Februarie 2025

By die eerste sitting van 2025 het die Taalkommissie vier nuwe lede verwelkom. Hier is hulle: Sisca Julies, Bridgette Brandt, Terrence Carney en George de Bruin.

Desember 2024

Vakatures: Taalkommissie
SUID-AFRIKAANSE AKADEMIE VIR WETENSKAP EN KUNS

Sluitingsdatum vir aansoeke: 15 Januarie 2025

Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns streef daarna om die gebruik en gehalte van Afrikaans te bevorder. Sedert 1917 speel die Akademie se Taalkommissie (TK) ’n leidende rol in die standaardisering van Afrikaans as skryftaal, met die oog op die volhoubare gebruik en ontwikkeling van die taal in al sy funksies. ’n Hoogtepunt van hierdie werk is die publikasie van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS), waarvan die elfde uitgawe in 2017, sy eeufeesjaar, verskyn het. Die TK werk tans aan die twaalfde uitgawe, ook met inagneming van die streeks- en sosiale variëteite binne die breë Afrikaanse taalgemeenskap.

Die TK, bestaande uit ’n maksimum van nege lede, vergader tweemaandeliks virtueel. Daarbenewens word jaarliks ’n openbare seminaar of webinaar aangebied om terugvoer oor kernsake en vordering te gee.

TK-lede word kontraktueel vir ’n termyn van drie jaar aangestel en werk op ’n deeltydse grondslag. ’n Honorarium word betaal vir diens gelewer.

Die Akademie wag tans op aansoeke van geskikte kundiges om die volgende vakatures in die Taalkommissie te vul:

1 x taalkundige met spesialisering in morfologie, sintaksis, semantiek of sosiolinguistiek.

2 x taalkundiges of taalpraktisyns met toepaslike kwalifikasies en uitgebreide kennis van leksikografie, terminografie, teksredaksie of vertaalkunde.

Stuur asseblief jou aansoek, insluitende ’n volledige CV, na die hoof- uitvoerende beampte by annelise.devries@akademie.co.za.

Die aanlyn aansoekvorm is beskikbaar op die SA Akademie se webwerf.


Oktober 2024

Woordfeesseminaar

Die Taalkommissie het tydens die Toyota Stellenbosch Woordfees ’n gesprek aangebied met die titel My Afrikaans en jou Afrikaans … En daar lê die ding.

Hoewel baie mense beweer dat hulle “suiwer” Afrikaans praat, beklemtoon taalkundiges dat niémand die standaardvariëteit van Afrikaans as gesproke taal gebruik nie. Verwysings na “suiwer Afrikaans” het soms selfs neerhalende houdings teenoor ander Afrikaanse variëteite tot gevolg. Wat ís dan die verskil tussen gesproke en geskrewe taal, en hoe hou “suiwerheid” met “standaard” verband?

Die TK benadruk dat niemand die sogenaamde standaardvariëteit van Afrikaans as hulle daaglikse gesproke taal gebruik nie, maar dat hierdie variëteit oorwegend in ongemerkte, geskrewe kontekste voorkom. Gesproke Afrikaans varieer sterk, met sommige variëteite wat nader aan die “standaard” lê en ander verder daarvan. Niks hiervan maak enige variëteit beter as ’n ander of enige variëteit minderwaardig nie.

In die breë taalgemeenskap is verskeie projekte aan die gang om die standaardvariëteit so inklusief moontlik te maak deur die elemente wat alle variëteite gemeen het, te identifiseer, op teken en te gebruik, veral te skryf. Dit is noodsaaklik dat die standaard sodoende verruim word sodat algemene Afrikaans vir meer Afrikaanssprekendes bruikbaar word en sprekers van geen variëteit uitgesluit voel. Nuwe skrywers, nuwe publikasies is nodig om unieke leksikale items uit verskillende variëteite van Afrikaans by die geskrewe standaard te voeg, en lesers, om so te verseker dat die taal vir al sy gebruikers relevant bly.

Van links na regs: dr. Annelise de Vries, Monique Rabé,
Fred Pheiffer, Jana Luther, Suléne Pilon (TK-voorsitter),
Marius Swart (TK-ondervoorsitter en gesprekleier)

Augustus 2024
  • Hartlik geluk aan ons kollega dr. Annelise De Vries wat in November amptelik haar rol as TK-lid vir dié van hoof- uitvoerende beampte van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) gaan verruil. Annelise is tans taaldosent in die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia en die koördineerder van hulle taalsentrum, asook ondervoorsitter van die African Association for Forensic and Legal Linguists (AAFL).

April–Mei 2024
Januarie 2024

Die Taalkommissie se eerste sitting van 2024 het in die laaste week van Januarie plaasgevind. Onder meer is daar tydens die sitting op datums besluit vir die TK se eerste reeks van vyf webinare, wat in April en Mei, virtueel, deur verskillende lede van die TK aangebied sal word.

Die voorlopige program lyk so:

23 April — Die geskiedenis van die Taalkommissie
30 April — Die inhoud van die AWS. Deel I
7 Mei — Die inhoud van die AWS. Deel 2
14 Mei — Die werkswyse van die TK
21 Mei — Die variëteite van Afrikaans

Die webinare sal laatmiddag, van 16:00 tot 18:00, gehou word. Toegang is gratis. Hou einde Maart hier en die TK se Facebookblad dop vir meer besonderhede.

Oktober 2023

Die Taalkommissie se afsluitingsitting vir 2023 het in Oktober plaasgevind. Daar is tydens hierdie sitting hard gewerk om laaste sake af te handel, maar ook tyd ingeruim om vir 2024 te beplan.

Die TK se belangrikste doelwit vir 2024 is om ’n eerste herskrywing van al die hoofstukke van die AWS af te handel. Daar is al heelwat werk gedoen, maar skouer aan die wiel is nodig om hierdie doelwit te bereik. Van die 2017-AWS moet nog ’n hele paar hoofstukke grondig hersien en bygewerk word, en ook ’n paar nuwe hoofstukke moet nog geskryf word. Daaraan sal die TK in 2024 die meeste tyd bestee.

Ons stel ook ’n tweede TK-seminaar in die vooruitsig, asook ’n reeks webinare.

Nog ’n belangrike taak wat voorlê, is die skep van ’n nuwe Taalkommissiekorpus. Die eerste TK-korpus is 15 jaar gelede saamgestel en hoewel dit steeds dié standaardverwysingskorpus vir formele, geskrewe Afrikaans is, weerspieël dit hedendaagse Afrikaans nie meer ten volle nie.

Vir gebruiksgebaseerde navorsing oor hedendaagse Afrikaanse taalkwessies en oor hoe Afrikaans vandag werklik geskryf word, is ’n verteenwoordigende korpus van eietydse, geskrewe Afrikaans noodsaaklik.

Junie 2023

Met die hibriede seminaar wat by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in Pretoria aangebied is, het die TK toegetree tot die gesprek oor die herstandaardisering van Afrikaans wat al ’n geruime tyd op verskillende platforms aan die gang is.

Maart 2022

Afrikaans se eerste transliterasietabel vir Oekraïens kan nou hier afgelaai word.

Januarie 2022
Suléne Pilon
Suléne Pilon


Die Taalkommissie het vir die eerste keer in sy bestaan van meer as 100 jaar ’n vrou as voorsitter. Op 30 Januarie 2022 praat Ina Strydom in die RSG-program Taaldinge met dié nuwe voorsitter, Suléne Pilon, en die uitvoerende hoof van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, prof. Anne-Marie Beukes. Luister hier vir meer oor die TK se nuwe model.

https://omny.fm/shows/taaldinge/taaldinge-30-januarie-2022

30 Junie 2021
Jana Luther
Jana Luther

Jana vertel hoe die covidpandemie die kommissie se werksaamhede beïnvloed het en van die beplanning vir die 12de uitgawe van die AWS wat onderweg is.

https://omny.fm/shows/taaldinge/taaldinge-13-junie-2021