Seminaar 2023

Opsomming

Die Taalkommissie (TK) van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) tree met hierdie seminaar toe tot die gesprek oor die herstandaardisering van Afrikaans wat al ’n geruime tyd op verskillende platforms aan die gang is.

SAAWK: Dinsdag 6 Junie 2023
Heindrich Wyngaard (voorsitter: TK-adviespaneel, regs)
lei die paneelgesprek oor Standaardafrikaans met v.l.n.r.
dr. Gerda Odendaal (WAT), Rudolf Stehle (Netwerk24) en Ria Oliver
(Afrikaanse Taalraad).

Hierdie gesprek lê die TK na aan die hart, aangesien Standaardafrikaans dié variëteit van Afrikaans is wat die TK in die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) beskryf.

(AWS, 2017, bl. v.)

SAAWK: Dinsdag 6 Junie 2023
Suléne Pilon,
taalkundige van die Universiteit van Pretoria en
voorsitter van die TK, verduidelik die TK se erns met
Standaardafrikaans en herstandaardisering.

  • Unieke benoemers uit die variëteite (dit is woorde waarvoor daar in Standaardafrikaans geen sinonieme bestaan nie) is reeds in die woordelys van die 2017-AWS ingesluit. Ons gaan voort om sulke woorde by die woordelys te voeg en verwelkom opnamevoorstelle uit die breë Afrikaanse gemeenskap.
  • Ons is deurgaans met herstandaardisering besig, aangesien die TK heeltyd hedendaagse gebruikswoorde tot die woordelys toevoeg en skaaf aan spelreëls om met veranderende tendense in geredigeerde Afrikaans in korpora tred te hou. (’n Korpus is ’n groot versameling lopende, geskrewe teks.)
  • Ons werk al lank toenemend gebruiksgebaseerd: Ons grond ons besluite op wat ons in korpora en ander bronne tot ons beskikking, sien. Ons beskryf, eerder as om voor te skryf. Die werk van die TK is om besluite ten opsigte van standaardisering, wat skrywers, en teksredakteurs en proeflesers – teksversorgers – deurlopend maak, te kodifiseer.
  • Dit is vir ons ’n groot prioriteit om ons besluite te baseer op ’n korpus wat so verteenwoordigend as moontlik is van geskrewe Afrikaans. Baie tekste wat in Afrikaans geproduseer word, is egter nie tot ons beskikking nie, omdat sommige groot uitgewers en mediamaatskappye nie hulle weg oopsien om die Afrikaans wat hulle publiseer vir taalnavorsing beskikbaar te stel nie. Dit is aan die een kant te verstane, omdat kopieregskending dikwels plaasvind, maar korpora word saamgestel op maniere wat dit onmoontlik maak om individuele tekste daaruit te onttrek. Daar is dus eintlik geen rede om taalkundiges, wat uitsluitlik in navorsing belangstel, toegang tot teksdata in korpora te weier nie. Hoe meer data ingesluit en bestudeer word, hoe meer verteenwoordigend word ’n korpus van geskrewe Afrikaans. As TK-besluite op ’n werklik verteenwoordigende korpus kon berus, sou ’n verruiming van die variëteit wat in die AWS beskryf word, eintlik outomaties plaasvind.
  • Ons is bewus van die konnotasies wat aan die term Standaardafrikaans bly kleef, naamlik dat dit wit-Afrikaans is; dat Standaardafrikaans “uitgedink is (en word)” deur ’n klein groepie mense wat dit op die spraakgemeenskap “wil afdwing”; dat Standaardafrikaans ’n variëteit is wat doelbewus die sprekers van ander variëteite van Afrikaans “uitsluit en vervreem”. Ten spyte van ons pogings om ons definisie van Standaardafrikaans, soos dit voorin die 2017-AWS staan, wyer bekend te maak, word allerlei ander betekenisse steeds aan die term geheg. Gegewe hierdie negatiewe beskouings, en ons werkswyse, wat hier bo kortliks beskryf is, is dit ons mening dat die naam van die variëteit wat hierdie kommissie van die SAAWK in die AWS beskryf, moet verander. Daarmee sluit ons aan by ’n tradisie wat ook reeds in die taalkunde gevestig raak, naamlik om na die variëteit van Afrikaans wat in die hoofstroommedia en ander geredigeerde publikasies gebruik word, as algemene Afrikaans te verwys. Die TK is dan vir die kodifisering van geskrewe, algemene Afrikaans verantwoordelik.
  • Ten spyte van die bagasie wat name en woorde vergesel, bly die TK oortuig dat die AWS vir Afrikaanssprekendes ’n nuttige hulpmiddel is. Maar dan moet die grootste deel van die gemeenskap verstaan watter variëteit van Afrikaans in die AWS beskryf word, en daarmee gemaklik wees. Anders gestel: Die AWS moet ’n bron wees vir almal wat algemene Afrikaans wil skryf, sowel vir huis- en moedertaalsprekers as (aan)leerders van die taal, hier en elders in die wêreld.
  • Die huidige TK werk doelbewus om die inhoud van die AWS vir gebruikers vriendeliker te maak. Bestaande hoofstukke word herstruktureer en herskryf. Die woordelys en afkortingslys is reeds bygewerk en geherstruktureer om dit makliker te maak om inskrywings in dié lyste te interpreteer. Nuwe bylaes, soos transliterasietabelle vir Arabies, Grieks en Oekraïens, en ’n lys van binnelandse en Namibiese plekname word ontwikkel. Deur ’n gebruikersvriendeliker bron daar te stel, hoop ons dat ’n volgende AWS vir ’n groter deel van die Afrikaanse gemeenskap en aanleerders van Afrikaans bruikbaar sal wees.
  • Verskillende dele van die AWS is gratis beskikbaar: Die woordelys, lys buitelandse geografiese plekname en afkortingslys is gratis in die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) se woordeboekportaal raadpleegbaar terwyl nuwe bylaes op die TK se webwerf, by www.taalkommissie.co.za, vir kommentaar beskikbaar gestel word. Podsendings oor elke AWS-hoofstuk is ook op beide werwe beskikbaar. Met hierdie gratis hulpbronne probeer ons verseker dat ons werk ook vir gebruikers wat nié ’n gedrukte AWS kan bekostig nie, toeganklik is.
  • Die TK is wat demografie betref, steeds nie verteenwoordigend van die breë Afrikaanse gemeenskap nie. Dit is vir ons ’n dringende probleem wat nie langer onopgelos gelaat kan word nie. Planne is reeds gemaak en word tans met die bestuur van die SAAWK bespreek.

SAAWK: Dinsdag 6 Junie 2023
V.l.n.r. Suléne Pilon (TK-voorsitter, UP), Jaco du Toit (TK-lid, CText, NWU), dr. Gerda Odendaal (WAT), dr. Annelize de Vries (TK-lid, Akademia), Monique Rabé (TK-lid, NWU), Fred Pheiffer (TK-lid, WAT), Ria Olivier (ATR), Jana Luther (TK-sekretaris, WAT), Heindrich Wyngaard (voorsitter: TK-adviespaneel; gesprekleier), Rudolf Stehle (Netwerk24), Marius Swart (TK-ondervoorsitter, US)

LUISTER
Die einde van Standaardafrikaans?
Suléne Pilon vertel vir Ina Strydom hoe die TK oor dié kwessie dink.
Die kwessie van standaardtaal bly in die kollig. Daar is diegene wat meen “standaard” sluit mense uit. Maar wat is standaardtaal; wat is die doel daarvan; hoe werk dit elders in die wêreld; en is dit nodig om ’n standaardtaal te hê? Die gesaghebbende taalkundige prof. Ernst Kotze beantwoord Ina Strydom se vrae.
Lees ook

Op LitNet

Op Netwerk24

“Standaardtaal moet ophou baasspeel in Afrikaans”

Op Maroela Media