- Geskiedenis van die Taalkommissie en die AWS
- Inhoud van die AWS
- Werkwyse van die Taalkommissie
- Die Taalkommissie en die variëteite van Afrikaans
lesing 1
Geskiedenis van die Taalkommissie en die AWS
Om ’n taal formeel as skryftaal te kodifiseer, is ’n komplekse proses wat nóú verweef is met die politieke en sosiale leefwêreld van die taal se sprekers. Oor die afgelope eeu het die Taalkommissie van die Suid‑Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die taak gehad om Afrikaans as skryftaal te help vestig. Aan die een kant neem die Taalkommissie leiding deur reëls vir die eenvormige spelling en skryfwyse van Afrikaans aan gebruikers beskikbaar te stel. Aan die ander kant reflekteer die Taalkommissie se werk die altyd groeiende woordeskat, segswyse en behoeftes van Afrikaans se skrywende gemeenskap. Die resultaat van dié opdrag word telkens weerspieël in ’n nuwe uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls as Afrikaans se oudste lewende taalhulpbron.
Sedert 1917 het elf Taalkommissies elf uitgawes van die AWS die lig laat sien terwyl daar in Suid-Afrika en in die wêreld rondom hulle belangwekkende gebeurtenisse afgespeel het wat noodwendig op elke uitgawe van die AWS hulle tekens gelaat het.
In hierdie eerste virtuele aanbieding van vyf, op Dinsdag 23 April 2024, het drie TK-lede, Jana Luther, Fred Pheiffer en Annelise de Vries, ’n kort oorsig aangebied oor aspekte van die geskiedenis van Afrikaans wat in wisselwerking met die normering daarvan gestaan het.
Onder die vergrootglas was:
- die ontstaansgeskiedenis van die AWS
- belangrike gebeurtenisse in die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat op die kodifisering van Afrikaans as skryftaal ingewerk het
- die AWS en die WAT
- die AWS en die Afrikaanse Bybelvertaling
- die AWS en vaktaal
- anglisismes
- taalbeplanning
Die lesing is intyds aangebied, ingelei deur die TK-voorsitter, Suléne Pilon, en met geleentheid vir vrae aan die einde.
Lesing 2 en 3
Inhoud van die AWS
Deel 1
Die belangrikste taak van die Taalkommissie (TK) is om die inhoud van die Afrikaanse woordelys en spelreëls by te werk sodat dit tred hou met veranderinge wat in formele, geskrewe Afrikaans plaasvind. In die tweede en derde lesing in hierdie TK-lesingreeks (op 30 April en 7 Mei) is die inhoud van die Afrikaanse woordelys en spelreëls bespreek.
30 April se lesing is begin met ’n bespreking van die term standaardtaal en hoe die TK daaroor dink. Daar is ook gesels oor wat die AWS is – en wat dit nié is nie – om sodoende duidelik te maak watter tipe vrae met behulp van inligting in die AWS beantwoord kan word al dan nie.
Verskillende maniere waarop die TK te werk gaan wanneer die AWS bygewerk word, het ook vlugtig aandag gekry. Daarna is die inhoud van die AWS van nader bekyk – met spesifieke verwysings na verskille tussen die AWS van 2017 en vorige AWS’e.
Deel 2
Die inhoud van die AWS is verder bekyk – met spesifieke verwysings na verskille tussen die AWS van 2017 en vorige AWS’e, aangebied deur Suléne Pilon (TK-voorsitter) en Jaco du Toit.
Los of vas?
Hoe weet, besluit ’n mens of ’n Afrikaanse woord as een woord (vas) of as twee woorde (los) geskryf moet word? Suléne verduidelik verskillende beginsels en gee wenke wat help.
lesing 4
Werkwyse van die Taalkommissie
In die voorwoord van elke nuwe AWS word die beskouinge en werkwyse van die kommissie wat vir daardie uitgawe verantwoordelik was, verduidelik.
In hierdie voorlaaste lesing op 14 Mei het Monique Rabé prakties gedemonstreer hoe die Taalkommissie die AWS hersien en bywerk. Aspekte wat aandag gekry het, is die:
- redaksionele beleid wat by die hersiening en bywerking van die AWS gevolg word
- kenmerke wat die AWS van ander woordeboeke en taalhulpbronne onderskei
- opname- en skrappingskriteria vir inskrywings in die Woordelys
- struktuur van en inskrywingstipes in die Woordelys
- voorbeelde van bywerkings in die 12de uitgawe, wat tans in bewerking is
Jana Luther het die lesing afgesluit deur uit ’n leksikografiese oogpunt, vlugtig, die verskille tussen die AWS en ander verklarende Afrikaanse woordeboeke te bespreek.
LESING 5
Die Taalkommissie en die variëteite van Afrikaans
Die AWS is die normeringsbron vir die variëteit bekend as Standaard-afrikaans (of algemene Afrikaans). Maar waaruit word daar geput om hierdie variëteit te kodifiseer, en wat is die verhouding tussen hierdie variëteit en ander Afrikaanse variëteite? In hierdie laaste virtuele aanbieding op 21 Mei is hierdie en ander aanverwante kwessies deur Marius Swart bespreek.