Hier is ons

Suléne Pilon

Suléne Pilonvoorsitter – is ’n taalkundige by die Universiteit van Pretoria se Departement Afrikaans. Op navorsingsterrein gebruik sy kognitief linguistiese beskrywingsraamwerke (veral konstruksiegrammatika en kognitiewe grammatika) om Afrikaanse morfologiese en sintaktiese konstruksies te beskryf. Sy stel ook baie belang in die neurowetenskaplike studie van taal, die aard van taal en taalkennis, en rekenaarlinguistiek. Sy was een van die eerste werknemers van die Sentrum vir Tekstegnologie aan die Noordwes-Universiteit en het al saamgewerk aan die ontwikkeling van etlike taaltegnologiese hulpbronne en toepassings, waaronder die NWU se Afrikaanse spel- en grammatikatoetsers, en Skryfhulp Afrikaans, ’n toepassing wat studente help om hul skryfwerk outomaties te verbeter. Sy is die moderator van die sintaksisafdeling van die Virtuele Instituut vir Afrikaans se Taalonderrigportaal en was ook in verskillende hoedanighede betrokke by die woordsoorteafdeling van hierdie projek. Sy is sedert 2009 ’n lid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Taalkommissie. Sy dien van 2012 tot 2017 as sekretaris van die Taalkommissie en van 2018 tot 2021 as ondervoorsitter. Sy word in 2022 aangestel as Taalkommissievoorsitter.

Marius Swart

Marius Swartondervoorsitter – het voorgraads aan die Universiteit Stellenbosch in die politieke wetenskap, filosofie en ekonomie studeer, maar altyd met taalvakke ook in sy pakket. Ná sy voorgraadse studie verwerf hy ’n meestersgraad in vertaling aan dieselfde universiteit en bou hy sy vaardigheid as taalpraktisyn uit. Hy doseer sedert 2008 in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die US en bied kursusse aan in sowel die formele as die toegepaste taalkunde, taalgeskiedenis, taalbeplanning, vertaling en tolking. Sy huidige fokusgebiede is vertaling en die Afrikaanse taalkunde, met ’n spesifieke belangstelling in die sosiolinguistiek en die vertaalpraktyk. Sy nagraadse studente se navorsing sluit onder meer literêre vertaling, taalbeleidstudies, kritiese diskoersanalises in die populêre kultuur en die breë taalpolitiek in. Sy eie navorsing fokus op taalburgerskap, literêre vertaling en konsekwentheid in vertaling. Onlangse vertalings sluit in The Snow Sleeper, die Engelse vertaling van Marlene van Niekerk se Die Sneeuslaper, en ’n Hart is so groot soos ’n vuis, die Afrikaanse vertaling van Pieter Fourie se The heart is the size of a fist. Benewens sy navorsing- en doseerbedrywighede is Marius die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe van die US se koördineerder van akademiese programvernuwing. Marius is sedert die middel van 2020 by die Afrikaanse Taalkommissie betrokke. Hy het ’n hele paar honde en ’n versameling vetplante, en hy gesels graag oor tuinmaak in die breë en kleingraanverbouing in die besonder.

Jana Luthersekretaris – is ’n leksikograaf en teksredakteur wat spesialiseer in Afrikaans en tans (sedert 2019) as ’n mederedakteur aan die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (die WAT) verbonde is. Sy dien van 2013 af in die Taalkommissie (van 2019 af as sekretaris) en werk af en toe as fiksieredakteur, herskrywer en vertaler vir verskillende uitgewers. Van 1991 tot 1993 is sy jeugboekredakteur en daarna woordeboekredakteur by Tafelberg; van 1996 tot 2006 bedags woordeboekmaker by Pharos en saans en Sondae gereeld nasienredakteur in die nagkantoor van Die Burger. Van 2007 tot 2017 is sy voltyds redakteur van die sesde uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT 6) by Pearson SA. In haar vrye tyd lees sy. Sy skryf sedert 2018 ’n tweeweeklikse rubriek vir Beeld (tot 2024), Die Burger en Netwerk24. Sy versamel en bewerk intyds nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat nog nie elders opgeneem is nie in haar Woordeboek van Afrikaans Vandag. Sy maak soms podsendings, soos vir die program Taaldinge op RSG. Sy word groot in Johannesburg, studeer Afrikaans, Nederlands, Engels, Duits en Opvoedkunde aan die Randse Afrikaanse Universiteit (nou UJ), waar sy voor- en nagraads die beste student in Afrikaans-Nederlands is en in 1991 ’n MA-graad met lof behaal.

Monique Rabé is in Johannesburg gebore en getoë. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Monument, waarna sy op die Potchefstroomkampus haar studie aan die Noordwes-Universiteit voortsit en in 2021 ’n meestersgraad in linguistiek en literêre teorie met onderskeiding behaal. Monique beklee tussen 2016 en 2021 verskeie poste by die Noordwes-Universiteit, waaronder dosent in akademiese geletterdheid en taalpraktyk. Daarna sluit sy haar by Solidariteit Helpende Hand en Maroela Media as taalpraktisyn aan. Monique is van 2022 af ’n dosent in Afrikaanse taalkunde in die Noordwes-Universiteit se Skool vir Tale op die Potchefstroomkampus. Sy werk ook as webredakteur vir vloek.co.za, ’n webtuiste vir ’n interinstitusionele, multidissiplinêre navorsings- en wetenskapskommunikasieprojek. Haar navorsingsfokusse sluit onder meer in kindertaalverwerwing, om verskeie taalkontakfenomene vanuit ’n sosiolinguistiese perspektief te ondersoek en om konstruksiegrammatika, spesifiek diasistematiese konstruksiegrammatika, te gebruik om Afrikaanse konstruksies te beskryf.

Fred Pheiffer

Fred Pheiffer is al 26 jaar leksikograaf. Hy sluit hom in 1999 by Pharos Woordeboeke aan en werk sewe jaar aan die vertalende Pharos Engels-Afrikaans-Afrikaans-Engelse Woordeboek. By Oxford University Press werk hy aan vertalende skoolwoordeboeke – Engels met isiZulu, met Afrikaans, en met isiXhosa – en aan OUP se topverkoper- Engelse skoolwoordeboek. Saam met sy oud-Pharos-kollega Jana Luther en prof. Rufus Gouws (US) is hy redakteur van die sesde uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (die HAT), wat in 2015 verskyn. Sedert 2018 is hy ’n mederedakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). Hy dien in beide die Akademie se Taalkommissie en tot onlangs ’n termyn in PanSAT se Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans. Voor sy woordeboekdae was Fred onder meer dosent aan die departement Afrikaans-Nederlands by Wits en vertaler en tolk in die Hansardafdeling van die Parlement. Hy is ’n trotse oudleerling van die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad en het taalkunde, argeologie en soölogie by Ikeys geswot. Sy M-graad het oor Chomsky gehandel. Hy woon saam met Lise en hulle honde in Suurbraak, ry graag bergfiets (met 12 Argusse agter die blad), en is ’n kranige Parkrunner. Fred is ’n verbete koerantleser – ingeteken op nege plaaslike en oorsese publikasies – en hy het ’n aansienlike versameling comics, veral Batman, Hellboy en Tarzan. Hy hou van kook, hou ’n klein wynversameling in stand en vroetel graag in sy tuin. Van Brahms kan hy nie genoeg kry nie, maar hy’t ook onlangs vir P.J. Harvey ontdek.

Jaco du Toit

Jaco du Toit werk sedert 2021 as ’n rekenaarlinguis by die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT®), ’n navorsings- en ontwikkelingseenheid op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit. Hy voltooi tans sy meestersgraad in rekenaarwetenskap, waar sy studie op beeldverwerking fokus. Hy het aan die NWU ’n BA-graad in taaltegnologie behaal, waarna hy sy BSc Honneurs in rekenaarwetenskap en inligtingstelsels met onderskeiding slaag. Jaco het ’n sterk agtergrond in masjienleer en kunsmatige intelligensie wat hy toespits op die ontwikkeling van taalhulpbronne en natuurliketaalverwerking vir Afrikaans, asook die ander amptelike Suid-Afrikaanse tale. Jaco is in Klerksdorp gebore waar hy aan die Hoërskool Wesvalia gematrikuleer het.

Terrence Carney is ’n taalkundige verbonde aan die Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap by die Universiteit van Suid-Afrika. In 2015 verwerf hy ’n doktorsgraad aan die Universiteit van die Vrystaat met forensiese semantiek as fokuspunt. Sy navorsingsgebied belig meestal semantiese, pragmatiese en taalsosiologiese kwessies in die regstelsel. Binne dié terrein publiseer hy veral in regsjoernale en in 2023 verskyn sy boek, Linguistics for Legal Interpretation, by UJ Press. Naas sy betrokkenheid by die Taalkommissie, tree hy ook as lid van PanSAT se Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans op. Hy is ’n boorling van Windhoek, Namibië.

Sisca Julius is ’n Afrikaans Eerste Addisionele Taal-onderwyser by die Hoër Meisieskool Kimberley en ’n skrywer met ’n passie vir woorde. Sy het haar BA-graad met Afrikaans, Engels en Antropologie as hoofvakke voltooi, haar honneursgraad met ’n fokus op die leksikalisering van rassistiese en seksistiese taalgebruik, en in 2024 haar meestersgraad in leksikografie. Al drie aan die Sol Plaatje-Universiteit (SPU). Van haar kortverhale verskyn in verskeie publikasies. Vir haar kortverhaal Honey Bee is sy in 2019 met die K&L Prize for African Literature bekroon. Haar leerders dryf haar soms teen die mure uit, maar herinner haar terselfdertyd om kreatief met taal om te gaan – en idiome te herwaardeer, soos “meng jou met die semels en die poppe sal dans”.

Bridgette Brandt is ’n trotse Namakwalandse akademikus met ’n passie vir taal en kultuur. Sy is in Nababeep gebore en matrikuleer in 2016 as hoofmeisie van die Hoërskool Concordia. In 2022 behaal sy haar BA-graad met lof aan die Sol Plaatje-Universiteit (SPU), met Afrikaans, Engels en Geskiedenis as hoofmodules, en in 2023 haar honneursgraad, waarin sy pragmatiese misverstande in Namakwalandse stories ondersoek. Sy werk tans aan die afronding van haar meestersgraad, waarin sy op die verteenwoordiging van Namakwalandse Afrikaans in die sosiale media fokus. Buiten haar akademiese prestasies is sy baie lief vir xhorro. Sy het haar skole se naam hoog gehou as redenaar, as speller (WOW), en as uitblinker in voordragkuns en toneelspel. Sy bied graag motiveringspraatjies vir voorgraadse en nagraadse studente aan. In 2022 is sy genomineer om in die SPU se Studenteraad te dien en het sy as akademiese fasiliteerder en tutor vir eerstejaarstudente in Afrikaans en Engels opgetree. Sy was al omroeper by Namakwaland se plaaslike radiostasie (NFM 98.1) en is ’n sportliefhebber wat in 2019 as SPU se beste vroueveldatleet aangewys is. Sy geniet snoeker en tafeltennis in haar vrye tyd.

George de Bruin is ’n boorling van Heidelberg (Gauteng) en het meer as 25 jaar se ondervinding in die kommunikasie- en taalpraktykomgewing. Hy behaal in 2018 sy MA-graad (cum laude) aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) met ’n studie oor die aktiveringsproses van die mentale leksikon van tweetaliges, vertalers en tolke. Dié verhandeling is later deur die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut (SAVI) as beste MA-verhandeling bekroon. Hy wag tans die uitslag van sy PhD-tesis af, wat fokus op pasiëntgesentreerde medisyne-inligtingsblaadjies en hoe dit deur gewone taal verbeter kan word. Hoewel hy as voltydse taalpraktisyn nie direk by die akademie betrokke is nie, is hy mede-outeur van twee akademiese hoofstukke en lewer hy gereeld referate by konferensies. Hy gee ook soms klas by UJ in tolkteorie, praktiese taalredaksie en psigolinguistiek. George se liefde vir taal het hom al ver geneem – benewens Afrikaans en Engels het hy Duits op skoolvlak studeer, en sy voorgraadse studies aan die Universiteit van Pretoria het Klassieke Grieks en Klassieke Hebreeus ingesluit. Hy is geen vreemdeling in aanlyn taalfora nie, altyd aktief en besig met taalnavrae, waar hy dikwels deur die kommentaargedeeltes van verskeie platforms beweeg.