Vier strategieë
Daar is vier strategieë wat gebruik kan word om woorde van vreemde herkoms in Afrikaans te skryf, naamlik vertaling, transkripsie (ook verafrikaansing genoem), transliterasie en direkte oorname.
1. Vertaling
Vertaling behels dat die konsep uit die brontaal in Afrikaans vertaal word. Die Japannese 生きがい (ikigai) word byvoorbeeld in Afrikaans vertaal as bestaansrede, en die Hebreeuse naam אֵל שַׁדַּי (ʾēl šaday) as God, die Almagtige. Die Engelse woord computer word vertaal met rekenaar en Système International d’Unités (Frans) as Internasionale Stelsel van Maateenhede.
2. Transkripsie (verafrikaansing)
Hierdie proses hou in dat die klanke (uitspraak) van die woord in die brontaal oorgeskryf word om die brontaaluitspraak in Afrikaans weer te gee. Dit word veral gedoen wanneer 1) die brontaal nie ’n segmentele skrifstelsel het nie, of 2) wanneer die brontaal klanke (foneme) het wat nie in Afrikaans voorkom nie. So, byvoorbeeld, word die Hebreeuse woord שָׁלוֹם (shālōm), meestal uitgespreek as [ʃɑˈlɔ:m], in Afrikaans getranskribeer as shalom, en die Khoinaam !Orana wat onder andere uitgespreek is as [ǃo.ɾa.na], word in Afrikaans getranskribeer as Korana of Koranna.
Hier is ’n lys van ander woorde wat Afrikaans aan transkripsie te danke het (kyk reël 20.1 in die 2017-AWS vir ’n langer lys):
blatjang, bloekom, boemerang, ghoeroe, indoena, jogurt, kategismus, limeriek, maroela, pajamas, piekniek, piesang, sjampoe, snoeker, taboe, tatoe, toffie, trein, zombie
3. Transliterasie
(Word binnekort bygevoeg.)
4. Direkte oorname
(Word binnekort bygevoeg.)
Het jy geweet die AWS bevat ’n lys buitelandse geografiese name met ook die afleidings van hierdie name? Daarin kan jy opsoek hoe ’n landnaam in Afrikaans geskryf word, wat die inwoners van die land genoem word, en watter adjektief jy moet gebruik om iets wat van daardie land af kom, te beskryf. Jy kan hierdie lys gratis in die Virtuele Instituut vir Afrikaans se woordeboekportaal raadpleeg en/of by Pharos Aanlyn op die volledige AWS inteken. Of bestel die papier-AWS by Takealot of Graffiti Boeke.
Luister
Net soos sprekers oral in die wêreld, gaan leen Afrikaansgebruikers dikwels woorde by ander tale. Maar hoe gemaak met die spelling van sulke woorde? Proff. Gerhard van Huyssteen en Marné Pienaar bespreek in hierdie episode van die VivA se AWS-reeks die drie hoofkategorieë van leenwoorde en gee voorbeelde.