Cover for Die Taalkommissie
12,764
Die Taalkommissie

Die Taalkommissie

Die Taalkommissie (TK) van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns

1 week gelede

Die Taalkommissie
Met die afsterwe van pous Franciskus gister, 21 April 2025, in die ouderdom van 88, is die Rooms-Katolieke Kerk nou in ’n oorgangstydperk wat belangrike tradisionele prosesse behels – en ook ’n ryk verskeidenheid terminologie.Die periode tussen twee pouse staan bekend as die 𝗶𝗻𝘁𝗲𝗿𝗿𝗲𝗴𝗻𝘂𝗺, oftewel die 𝘀𝗲𝗱𝗲 𝘃𝗮𝗰𝗮𝗻𝘁 ('vakante sitplek'). Gedurende hierdie tyd is die kardinaal-kamerheer (Engels: "camerlengo" of "chamberlain") verantwoordelik vir die bestuur van die Vatikaanstad se wêreldlike sake.Die proses om 'n nuwe pous te verkies, geskied deur ’n (pouslike) 𝗸𝗮𝗿𝗱𝗶𝗻𝗮𝗮𝗹𝘀𝘃𝗲𝗿𝗴𝗮𝗱𝗲𝗿𝗶𝗻𝗴 (Engels: "papal conclave") in Rome. Alle kardinale onder die ouderdom van 80 word na Rome ontbied, waar hulle hul daagliks in die Sistynse kapel afsonder van die buitewêreld vir ’n reeks beslote stemmings. In die hiërargie van die Rooms-Katolieke Kerk staan kardinale hoër as aartsbiskoppe, maar onder die pous. Die 𝗞𝗼𝗹𝗹𝗲𝗴𝗲 𝘃𝗮𝗻 𝗞𝗮𝗿𝗱𝗶𝗻𝗮𝗹𝗲 (Engels: "College of Cardinals") bestaan uit drie ordes: 𝗸𝗮𝗿𝗱𝗶𝗻𝗮𝗹𝗲-𝗯𝗶𝘀𝗸𝗼𝗽, 𝗸𝗮𝗿𝗱𝗶𝗻𝗮𝗹𝗲-𝗽𝗿𝗶𝗲𝘀𝘁𝗲𝗿 en 𝗸𝗮𝗿𝗱𝗶𝗻𝗮𝗹𝗲-𝗱𝗶𝗮𝗸𝗲𝗻. Hierdie samestellings word met koppeltekens geskryf omdat dit saamgestelde rangbenamings is, en die woord "kardinaal" kry telkens die meervoudsuitgang, aangesien dit die kern van die rangbenaming vorm.Stemming vind tot vier keer per dag plaas, totdat ’n kworum (d.i. 'n tweederdemeerderheid) bereik word. Ná elke stemronde word die stembriewe verbrand om visuele aanduiding van die uitslag te gee: 𝗙𝘂𝗺𝗮𝘁𝗮 𝗻𝗲𝗿𝗮 (swart rook) dui aan dat daar nog nie ’n besluit is nie, terwyl 𝗳𝘂𝗺𝗮𝘁𝗮 𝗯𝗶𝗮𝗻𝗰𝗮 (wit rook) aandui dat ’n nuwe pous verkies is.Sodra ’n nuwe pous aangewys is, kondig die kardinaal-protodiaken – die hoof van die kardinale-diaken – sy naam aan vanaf die balkon van die St. Petrusbasilika op St. Petrusplein. ... Sien meerSien minder
View on Facebook

2 weke gelede

Die Taalkommissie
Dit is met groot hartseer dat die Taalkommissie die nuus dat dr. Frikkie Lombard vanoggend, 19 April 2025, oorlede is, deel.Frikkie Lombard is in 1953 in Bellville gebore en het aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer, waar hy sy akademiese grondslag in Afrikaans en Nederlands gelê het. Ná sy studies het hy vir drie jaar as Afrikaansonderwyser by Paul Roos Gimnasium gewerk, voordat hy op 1 April 1982 as mederedakteur by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) aangesluit het.Sy loopbaan by die WAT was van onskatbare waarde: In 1993 is hy aangestel as senior mederedakteur en in 2002 as eindredakteur – ’n posisie wat hy met besondere toewyding beklee het tot en met sy aftrede aan die einde van Oktober 2023, toe die WAT se nuwe digitale T-trajek bekendgestel is. Onder sy leiding is nege woordeboekdele voltooi, insluitend die T-trajek, wat nou slegs aanlyn beskikbaar is.Dr. Lombard het ook vir 25 jaar, van 1995 tot 2020, as lid van die Taalkommissie gedien – waarvan die eerste 15 jaar as sekretaris. Hierdie uitsonderlike betrokkenheid maak van hom een van die langs dienende lede in die geskiedenis van die Kommissie. Vir sy onbaatsugtige en volgehoue bydrae is hy, saam met sy kollegas op die Kommissie, met die C.J. Langenhovenprys vir Taalwetenskap én die C.L. Engelbrechtprys deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer. Hy was self ook ’n trotse lid van die Akademie.Die laaste lemma waaraan hy meegewerk het, was die woord “trek” – ’n gepaste laaste bydrae van iemand wie se lewenspad diep spore in die Afrikaanse taallandskap getrap het. Dr. Lombard se trek van hierdie wêreld laat ’n groot leemte, maar ook ’n ryke erfenis wat in die taal voortleef.Ons eer dr. Lombard nie net as ’n toegewyde taalkundige en leksikograaf nie, maar ook ’n nederige kollega, mentor en vriend. Hy word oorleef deur sy vrou, Elmaré, sy twee kinders en sy kleindogter.In die onderstaande video bring Alet Cloete, senior mederedakteur van die WAT, hulde aan dr. Lombard tydens sy aftrede in 2023. ... Sien meerSien minder
View on Facebook

2 weke gelede

Die Taalkommissie
Met fassinerende infografika wys die Nederlandse etimoloog Joïn van Spijk hoe bekende woorde oor die eeue heen ontwikkel het. Sy webblad staan bekend as 𝘛𝘢𝘢𝘭 𝘢𝘢𝘯 𝘥𝘦 𝘸𝘢𝘯𝘥𝘦𝘭: taalaandewandel.com/Jana Luther skryf oor die onderstaande prentjie, wat die etimologie uitbeeld van woorde soos “Charles”, “Kerls” en “churls”. Al hierdie woorde spruit uit die Oudgermaanse "kar(a)l" en het oor tyd in verskeie Wes-Germaanse tale op verskillende maniere ontwikkel.Lees die volledige Netwerk24-rubriek by die volgende skakel: www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/jana-luther-alle-konings-is-kerels-nie-alle-kerels-kon... ... Sien meerSien minder
View on Facebook

4 weke gelede

Die Taalkommissie
Prof. Peter Raper se nuutste boek 𝘉𝘰𝘦𝘴𝘮𝘢𝘯-𝘪𝘯𝘷𝘭𝘰𝘦𝘥 𝘰𝘱 𝘈𝘧𝘳𝘪𝘬𝘢𝘢𝘯𝘴𝘦 𝘱𝘭𝘦𝘬𝘯𝘢𝘮𝘦 is gister tydens 'n spoggeleentheid op die Universiteit van Johannesburg se Aucklandpark-kampus bekendgestel. Prof. Raper, tans navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat, het ook in 2001 die Erepenning vir Wetenskaplike Vakbevordering van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang.Die boek, wat in 2025, deur UJ Press uitgegee is, ondersoek die taalkundige nalatenskap van die Boesmans in Suid-Afrika se pleknaamgeskiedenis. Hoewel die Boesman-tale lank reeds as uitgestorwe of bedreig beskou word, toon Raper hoe elemente daarvan steeds voortleef in plekname wat ons daagliks gebruik. Hy ondersoek die komplekse wisselwerking tussen Boesman-, Khoi-khoi-, Afrika-tale (soos Zoeloe, Xhosa, Suid-Sotho, Noord-Sotho en Tswana) en uiteindelik Afrikaans, en wys hoe plekname met Boesman-oorsprong aangepas en oorgedra is tussen taalgemeenskappe. Die boek fokus op hoe taalsisteme mekaar beïnvloed het in die proses, en bevat etimologiese ontledings van ’n wye reeks plekname soos Driekoppe, Dwarsrivier, Hartsrivier, Kleinplaas, Potchefstroom en Suurbergpoort. Deur grondige navorsing en vergelykende taalkunde bied Raper insig in ’n dikwels oor die hoof gesiene aspek van ons geografiese en kulturele geskiedenis.Die volledige boek kan gratis by die volgende skakel afgelaai word: ujonlinepress.uj.ac.za/index.php/ujp/catalog/book/270 ... Sien meerSien minder
View on Facebook

Nou op X