Woordelys

Vreemde name in Afrikaans

25 Maart 2022

Oud-TK-voorsitter prof. Ernst Kotzé verduidelik na aanleiding van Max du Preez se nuusbrief oor die demokratisering van Afrikaans hoekom woorde in verskillende tale vertaal, getranslitereer en getranskribeer word. Hierdie artikel het op 25 Maart 2022 in Vrye Weekblad verskyn.

*Onderaan hierdie artikel is daar ook ’n opname waarna jy kan luister.

Nuuskantore in alle media in Suid-Afrika ontvang normaalweg berigte en nuusitems van oorsee in geskrewe vorm, en in die meeste gevalle in Engels. Sulke nuusberigte bevat dikwels nie net plekname nie, maar ook eiename van persone en instansies. Eiename van plekke en persone, veral uit lande waar een of meer van die ander 6,000+ wêreldtale gepraat word, het gewoonlik ’n spelling en uitspraak wat vir ons in Suid-Afrika heeltemal vreemd op die oog en oor val. Dit is natuurlik weer in die soeklig geplaas deur die berigte oor die inval in Oekraïne, deurdat verskillende Oekraïense en ander Oos-Europese plekname daagliks in die nuus vermeld word.

Soos in die geval van tale soos Russies, Bulgaars, Masedonies, Serwies en Belarussies, gebruik Oekraïens die Cyrilliese alfabet, anders as die meeste Westerse tale, waaronder Engels en Afrikaans, wat die Romeinse alfabet benut. Om name in sulke tale vir gebruikers van Westerse tale leesbaar en uitspreekbaar te maak, word sulke name getranslitereer in die Romeinse alfabet, of dan geromaniseer. Om dit te kan doen, word die name aangepas by die klank- en skryfstelsel van die taal waarin daar van sulke name verslag gedoen word. Transliterasie behels dus basies die verinheemsing van sulke eiename in Afrikaans, Engels, Nederlands, Japannees, Frans, ensovoorts, en elke taal pas die spelling en uitspraak van so ’n naam aan by die naaste moontlike uitspraakekwivalent van die klanke wat deur die letters van die brontaal voorgestel word. Dit is hoekom ons die naam van die Russiese hoofstad, Мосва “mask-wá” in Afrikaans skryf as Moskou, in Engels as Moscow, in Frans as Moscou, ensovoorts.

Maar ook tale wat die Romeinse alfabet benut, gebruik allerlei diakritiese tekens om die spraakklanke van die taal weer te gee, soos ’n strepie deur die L (Ł) in Pools vir ’n [u] of [w]-klank, soos in Łódź “whoedzj” [wuʤ], Wrocław “wrotswhaf” [vrɔtswaf] en Białystok “biawhistok” [biawəstɔk]. Die klankwaarde van sommige letterkombinasies in byvoorbeeld Pools en Hongaars stem nie ooreen met dié in die Germaanse of Romaanse tale nie, soos bv. die sz in Warszawa (Warskou), wat as sj uitgespreek word [varʃava], terwyl ’n sz in Hongaars ’n s-klank verteenwoordig, en ’n s weer ’n sj-klank, soos in Szeged [sɛgɛd] en Budapest [budapɛʃt]. Die cedilla onder ’n “e” of ’n “a” (die stertjie onderaan die ç van François) verteenwoordig weer ’n [n] ná die vokaal, soos in die naam van die vrouetenniskampioen Swiątek, wat as [sviantɛk] uitgespreek word.

Weens die vreemdheid van die woordvorm, het sprekers van ander tale nodig om so ’n naam te kan identifiseer volgens die uitspraakstelsel (of fonologie) van hulle taal, soos weerspieël deur die ortografie (of spelling) van die betrokke taal. Die Russiese eienaam Владимир Путин word byvoorbeeld in Frans getranslitereer as Vladimir Poutine, in Duits as Wladimir Putin, in Pools as Władimir Putin en in Nederlands as Vladimir Poetin. Dit doel van transliterasie is dus om vreemde inhoud meer toeganklik te maak vir sprekers van ander tale, en in die proses so na as moontlik aan die brontaaluitspraak te bly. Opmerklik is egter dat die Engelse transliterasie van die familienaam Putin in die uitspraak dikwels as “pjoetin” weergegee word, wat dus enigermate afwyk van die Russiese uitspraak.

Hoe verskil transliterasie en vertaling?

Die vorm van plekname kan ook saamhang met die identiteitswaarde wat aan die taal gekoppel word, veral as meer as een taal amptelik in dieselfde land gebruik word. (België, waar elke Nederlandse pleknaam ook ’n Franse ekwivalent het (Antwerpen/AnversLuik/Liège), Finland, waar Sweeds ook ’n amptelike taal is, en die hoofstad Helsinki ook as Helsingfors bekend staan, Pole, waar Duitse plekname tydens die Nazi-tydperk ná onafhanklikheid deurgaans met die Poolse ekwivalent vervang is (Breslau/Wrocław), Suid-Afrika, waar Zulu-plekname, wat ’n verengelste spelling gehad het, soos Umkomaas en die riviernaam Tugela, deur die regte Zulu-spelwyse vervang is (uMkomaziThukela), en Oekraïne, waar die hoofstad Kiëf, wat ’n Russiese uitspraak weergee, deur die (geromaniseerde) Oekraïense spelling Kyiv (op die Engelse transliterasie gebaseer) vervang is. Hoewel die Cyrilliese alfabet sowel in Russies as in Oekraïens gebruik word, bevat die alfabet in Oekraïens letters wat nie in Russies voorkom nie, en is die spelling ook meer foneties, dit wil sê die klankwaarde van die letters is meer konsekwent.

Maar hoe verskil transliterasie van die vertaling van ’n eienaam? Eerstens behels vertaling dat die betekenisinhoud van ’n woord oorgedra en behou word in die teiken- of ontvangertaal, natuurlik deur die gebruik van die vertaalekwivalent, wat ’n herkenbare en verstaanbare woord is in die ontvangertaal. Vertaling is dus die handeling om geskrewe inhoud van ’n brontaal na ’n teikentaal om te skakel. Dit kan volledig of gedeeltelik wees: Die Engelse Kanaal is bv. ’n vertaling van “the English Channel” en in Frans La Manche (‘die Mou’), terwyl die Krim-skiereiland die Oekraïense benaming kombineer met ’n Afrikaanse woord. Die naam Krim (Eng. Crimea) kan egter ook alleen gebruik word.

Johannes, Giovanni, Juan, Jean, Ivan …

Dit bring my by die verskil tussen vertaling en transliterasie. Daar is sommige name wat met ’n inheemse ekwivalent vertaal kan word, soos die name van Bybelse figure. Johannes is bv. Giovanni in Italiaans, Juan in Spaans, Jean in Frans en Ivan in Oekraïens of Russies. Net so is Jakobus James in Engels, Tiago in Spaans, Yakiv in Oekraïens en Iakof in Russies. Maar plekname word oor die algemeen nie vertaal nie, en eerder getranslitereer, of dan aangepas by die klank- en skrifstelsel van die ontvangertaal. Tom McLachlan definieer transliterasie in ’n artikel in Die Burger soos volg: “Transliterasie behels dat die letters of skriftekens van die brontaal een vir een vervang word deur letters of skriftekens van die doeltaal wat ’n ander alfabet gebruik, en dat die klanke wat die skriftekens in die brontaal verteenwoordig, so na as moontlik in die doeltaal weergegee word.” Plekname wat internasionaal bekend is, word soms ’n bietjie reggedokter, om meer soos inheemse woorde te klink, soos die Franse hoofstad Paris, wat Parys word in Afrikaans, Parigi in Italiaans en Parizj in Russies, of Milano, wat Mailand word in Duits. Transkripsie, aan die ander kant, is gewoonlik die proses om gesproke woorde, en hierdie geval name, deur geskrewe karakters weer te gee. Maar dit word ook gebruik om uitspraakleiding te gee aan lesers wat nie vertroud is met die klanke van die brontaal nie, en dit kan verskillende skrifstelsels behels.

Die verskil tussen transliterasie en transkripsie is dus dat transliterasie volgens ’n sisteem van ekwivalente skryftekens die oorspronklik naam weergee, wat nie noodwendig die presiese uitspraak in die brontaal verteenwoordig nie. By transkripsie, aan die ander kant, word ’n poging aangewend om die uitspraak in die brontaal so presies as moontlik weer te gee, volgens die interpretasie van die vertaler/skribent, wat nie noodwendig ooreenstem met die resultaat van transliterasie nie.

Maar hoe gemaak met Oosterse tale, of Arabies, wat vir Afrikaans totaal vreemde skrifstelsels het? Eerstens kan ’n taal wat nie die Romeinse alfabet gebruik nie, ’n amptelike transliterasiestelsel ontwikkel waarvolgens name in die brontaal vir internasionale gebruik in die Romeinse alfabet weergegee word; dit is byvoorbeeld in Chinees en Japannees gedoen. In Japannees word die sisteem Roomaaji genoem (dus geromaniseerde skrif), en plekname wat so geskryf is, soos bv. Fukushima, word as die amptelike skryfwyse in die Romeinse alfabet beskou, en wêreldwyd só gebruik. Toevallig is die skryfwyse in ’n mate op die Engelse klankwaardes van die letters gebaseer, al is dit nie presies soos in Japannees nie, maar as ’n mens nou in Afrikaans die naam van die Japanse berg Fuji as “Foedji” sou skryf, is dit ’n transkripsie van die Engelse uitspraak, en nie ’n transliterasie van die Japannees nie. Transkripsies word, soos gesê, gebruik om aan ’n leser uitspraakleiding te gee, en verteenwoordig nie die skryfwyse wat amptelik erken word nie.

Dieselfde woorde anders uitgespreek

In Chinees is daar meer as een romaniseringsisteem, wat gebaseer is op die uitspraak van Mandaryns, waar presies dieselfde woorde byvoorbeeld anders uitgespreek word as in Kantonees (wat in Hong Kong gepraat word). Die eerste sisteem, naamlik die sogenaamde Wade-Giles-stelsel, het nader gekom aan die werklike uitspraak van Mandaryns, volgens die klankwaardes wat in Westerse tale geld, en die hoofstad van China is geskryf as Peking, en die naam van die bekende kommunistiese leider as Mao Tse-Tung. Die Chinese regering het egter nou ’n nuwe amptelike stelsel in gebruik geneem, die sogenaamde Pinyin-sisteem, wat in baie opsigte afwyk van die klankwaardes van die letters. So woord die [p]-klank byvoorbeeld as ’n b geskryf, die [t]-klank as ’n d, en [tʃ] as j, sodat die uitspraak van die hoofstad, wat in Mandaryns “peitsjien” [pəitʃin] is, as Beijing geskryf word, en Mao Tse-Tung [mau tsə tuŋ] as Mao Zedong. ’n Mens sou kon sê dat die amptelike Chinese geromaniseerde skryfwyse baie internasionale nuuslesers op ’n dwaalspoor lei, maar dit is die vorm wat algemeen in gebruik is, en op ’n dwaalspoor sal ons maar moet bly.

Wat Arabies betref, is daar, soos ook vir Grieks, Hebreeus en ander nie-romeinse skrifstelsels, transliterasietabelle opgestel deur UNESCO (van die Verenigde Nasies) se Groep Deskundiges oor Geografiese Name, wat universeel in die nuusmedia gebruik word. Die ideaal is dat hierdie tabelle as basis moet dien om internasionaal dieselfde transliterasies in die Romeinse alfabet in alle tale te gebruik wat die Romeinse alfabet benut, en dat daar vir elke ontvangertaal (byvoorbeeld Afrikaans) uitspraakleiding van sulke getranslitereerde name gegee word vir gebruik deur die elektroniese media. In die meeste gevalle sal dit onproblematies wees, maar dit gebeur dikwels dat Engels nie die klanke ken wat in die brontaal voorkom nie, terwyl dit byvoorbeeld in Afrikaans en ander tale wel bekend is. So word die [x]-klank (soos in gaan), wat in Russies, Nederlands, Arabies en Afrikaans voorkom, in Engelse transliterasies deur kh voorgestel, en in Afrikaans moet ’n mens weet dat dit nie ’n k-klank verteenwoordig nie, en dat die pleknaam Kharkiv as [xárkif] “garkief”, of eintlik [xárkiʋ] “gárkjoe” uitgespreek word.

In sulke gevalle word daar, om ’n meer outentieke weergawe van die werklike uitspraak moontlik te maak, vir die mees bekende tale transliterasietabelle opgestel. Dit sou natuurlik ’n onbegonne taak wees om dit vir elke mooontlike taalkombinasie te doen, maar internasionale prominensie op die nuusfront is ’n nuttige maatstaf. Wat betref Afrikaans en die Slawiese tale wat die Cyrilliese alfabet gebruik, is daar in die laaste drie uitgawes van die Afrikaanse woordelys en spelreëls so ’n transliterasietabel met voorbeeldwoorde en die ooreenstemmende letters en name in Afrikaans en Engels opgeneem. Vir die volgende uitgawe van die AWS word ook transliterasietabelle vir Grieks en Arabies in die vooruitsig gestel.

Van die wal in die sloot

Die vraag word soms gestel waarom alle buitelandse name verafrikaans móét word – wat is dan verkeerd met die Engelse transliterasies? Vir baie Afrikaanssprekendes bestaan die taalwêreld uit twee komponente: ’n Afrikaanse omgewing, wat kleiner of groter kan wees, na gelang van die werksituasie of sosiale omgewing waarin hulle hul bevind, en ’n Engelse omgewing, waarin Engels as pakdonkie moet dien om betekenisse oor te dra aan mense wat nie Afrikaans as huistaal het/ken nie. Dit beteken vir hulle dat Engels beskou word as ’n soort lopersleutel (in Eng master key, of in Frans passe-partout, waarmee ’n mens oral in die wêreld oor die weg kan kom). As kommunikasiemiddel is Engels uiteraard ’n nuttige bate in baie kontekste, hoewel beperk in baie lande, maar wanneer dit by transliterasie kom, is dit ’n ander storie. Soos gesê, hang transliterasie en uitspraak baie nou met mekaar saam, en kan ’n Engelse transliterasie ’n mens van die wal in die sloot lei. Dit is beslis nie ’n Afrikaanse nuk nie, en word in talle ander tale gebruik.

Die riglyn wat vir Afrikaans in dié verband gevolg word, kan kortliks só saamgevat word: Wat betref tale wat ’n eie skryfstelsel gebruik, en waarvoor daar ’n amptelike Romeinse skryfwyse bestaan, byvoorbeeld vir Japannees en Chinees, word dit as internasionaal geldige spelvorm beskou en gebruik. Vir ander tale is Afrikaans steeds besig, aan die hand van die riglyne van UNESCO se Komitee van Deskundiges, om die transliterasie van plekname te verfyn en te standaardiseer. ’n Taal soos Nederlands, wat al heelwat werk in dié verband gedoen het, en in baie opsigte ooreenstem met die spelling van Afrikaans, dien tradisioneel as voorbeeld vir transliterasiebeginsels in Afrikaans. Dit geld veral woorde waar Engels uitspraakgewys die pot missit en ’n mens op ’n dwaalspoor kan lei.

Watter bronne kan ’n mens dan raadpleeg om te sien hoe Afrikaans sulke buitelandse plekname hanteer? Behalwe die transliterasietabelle in die Afrikaanse woordelys en spelreëls, bevat dit, behalwe ’n alfabetiese lys landsname met die Engelse ekwivalente, ook ’n lys geografiese plekname, wat die transliterasie van talle name wêreldwyd insluit, asook die afgeleide vorme. ’n Voorbeeld hiervan is die spelling van Oekraïne (met ’n deelteken op die “i”, as oop lettergreep, gevolg deur “‑ne”), maar Oekraïense, waar die “ien”-klank [in] ’n “e” ná die deelteken-“ï” noodsaak, omdat dit ’n geslote lettergreep is. (In TV-nuustekste word hierdie “e” meestal weggelaat, sodat dit volgens die spelling *Oekraïnse as “oekra-hin-se” [ukrahənsə] gelees kan word.)

’n Verdere bron is die sogenaamde Report on the current status of the United Nations romanization systems for geographical names (submitted by the United Nations Group of Experts on Geographical Names) van 2002. Dié verslag bevat onder meer lyste transliterasietabelle vir ’n groot aantal tale.

Transliterasie in Afrikaans gee dus erkenning aan die feit dat ons vir ons geografiese oriëntasie in die wêreld as geheel na ’n taalwerklikheid wyer as dié van Engels kan kyk.

In hierdie aflewering van die RSG-program Taaldinge verduidelik prof. Ernst Kotze aan Ina Strydom hoekom plekname van Oekraïense stede en dorpe verafrikaans word. Hy verduidelik wat transliterasie is, en dat dit ’n verskynsel is wat in alle tale voorkom.

Prof Ernst Kotzé is emeritusprofessor van die Nelson Mandela-universiteit, voorheen dosent in forensiese linguistiek aan die Noordwes-Universiteit. Navorsingsgebiede: Afrikaanse en algemene taalkunde, sosiolinguistiek, leksikografie, taalbeleid, historiese taalkunde, vertaalkunde en forensiese linguistiek. Hy is is ’n NSS/NRF-gegradeerde navorser, en ontvang onder meer die Alexander von Humboldt-stipendium, C.J. Langenhovenprys, C.L. Engelbrecht-prestasieprys, Marnixring-toekenning en ʼn erepenning van die SA Akademie. Publikasies sluit in 46 boeke en 57 vaktydskrifartikels in Afrikaans, Engels, Duits, Frans en Japannees.  

Oor tale en name

19 Maart 2022

Taalkundig is die plaaslike verwysing na Rusland se pres. Wladimir Poetin korrek. Oud-TK-voorsitter Tom McLachlan verduidelik hoekom.

Die Burger het sedert die Russiese inval in Oekraïne ’n paar keer onder skoot gekom omdat hy die Russiese president se van Poetin spel, en nie Putin nie. Laasgenoemde spelling sou dan volgens die kritici “die man se van” wees.

Dis egter nie so eenvoudig nie, want hoewel Engels deesdae oor die wêreld heen ’n nuttige kommunikasietaal is, het ander tale en ander skrifstelsels nie net verdwyn nie, en dit beteken weer dat Engels nie die alleenreg het op hoe name geskryf en gespel moet word nie. Ons lewe immers in ’n veeltalige wêreld.

Nie al die tale in die wêreld word op dieselfde manier geskryf nie. Die meeste Westerse lande gebruik die Romeinse alfabet – die een waarin hier geskryf is. Sommige van dié tale voeg bykomende lettertekens (byvoorbeeld æ, å of ñ) wat nie gewoonlik in Afrikaans of Engels gebruik word nie, aan die alfabet toe omdat dit aan die betrokke taal se spesifieke uitspraak- of klankbehoeftes moet beantwoord.

In Europa word in Griekeland die Griekse alfabet gebruik, wat vir die meeste ander mense, wel, Grieks is, en in Rusland word die Cyrilliese alfabet gebruik. Die tale van die Midde-Ooste en Noord-Afrika is verskeie vorme van Arabies, en in Israel is dit Moderne Hebreeus. Sowel Arabies as Hebreeus word van regs na links geskryf en gelees, en die lettertekens toon visueel geen ooreenkoms met die Romeinse alfabet nie.

Asiese en Verre Oosterse lande – van Indië tot in China en Japan – gebruik ’n verskeidenheid van alfabette of skrifstelsels vir die tale wat in die betrokke lande geskryf word. Die meeste van dié skrifstelsels toon visueel ook hoegenaamd geen ooreenkoms met die Romeinse alfabet nie, en gevolglik is hulle vir gewone Westerlinge volkome ontoeganklik.

In ons moderne geglobaliseerde wêreld kan iets wat nou op een plek gebeur, blitsvinnig oral nuuswaardig wees. En hoe berig die pers daaroor as die gebeurtenis in ’n land plaasvind wat nie net ’n ander taal gebruik nie, maar ’n ander alfabet?

Hier geld twee beginsels: Die eerste is vertaling, wat behels dat die inhoud, die gegewens, die feite wat in een taal gestel word, met behoud van betekenis in ’n ander weergegee word. Name, veral van persone en plekke, kan egter nie in dié sin “vertaal” word nie. Wat wel al eeue lank gebeur, is, tweedens, dat sommige name “verinheems” word, dit wil sê die name word aangepas by die klank- en skryfstelsel van die “ontvangertaal”.

Vir baie mense is die bekendste waarskynlik die name van Bybelfigure. Dink byvoorbeeld aan die vier evangeliste, wat in Afrikaans Matteus, Markus, Lukas en Johannes is, in Engels Matthew, Mark, Luke en John, in Duits Matthäus, Markus, Lukas en Johannes, in Nederlands Matteüs, Marcus, Lucas en Johannes, in Frans Matthieu, Marc, Luc en Jean en in Spaans Mateo, Marcos, Lucas en Juan.

Tradisioneel is die name van belangrike historiese figure, byvoorbeeld monarge, pouse of ontdekkingsreisigers, by verskillende tale aangepas.

Die Engelse koning Henry VIII, bekend om sy vele vroue, word in Nederlands en Afrikaans tradisioneel Hendrik, in Duits Heinrich, in Frans Henri en in Noorweegs Henrik, maar ons sal waarskynlik nie wanneer die huidige Britse kroonprins die troon bestyg, van koning Karel III praat nie (dit wil sê as hy Charles as sy ampsnaam aanneem).

Die huidige pous, Franciskus, word in Italiaans Francesco, in Frans François, in Spaans Francisco, in Engels Francis en in Duits Franziskus genoem.

Die ontdekkingsreisiger wat ons in Afrikaans ken as Hendrik die Seevaarder heet in Engels Henry the Navigator, in Portugees Henrique o Navegador, in Duits Heinrich der Seefahrer, in Frans Henri le Navigateur, en in Spaans Enrique el Navegante.

Uit bostaande blyk onder meer dat sulke verinheemsings glad nie slegs by Afrikaans voorkom nie, dat daar ’n groter geneigdheid is om historiese name as moderner name te verinheems, en dat daar bloedweinig, indien enige, konsekwentheid of voorspelbare patroon in die verskynsel is.

Die laaste Duitse keiser, Wilhelm II, is in Engels meestal William genoem, in Noorweegs en Sweeds Vilhelm en in Frans Guillaume. Daarenteen noem Engels en Duits die huidige Nederlandse koning Willem-Alexander – dit word nie verengels of verduits nie; selfs in Frans word Willem-Alexander behou, hoewel Guillaume-Alexandre as alternatief geld. Spaans maak dit skynbaar Guillermo Alejandro.

Al bogenoemde voorbeelde behels name van persone in tale wat die Romeinse alfabet gebruik, en die enigste vrae is dus of die naam verinheems word en, indien wel, hoe.

Die ander groot kategorie van name wat verinheems word, is dié van plekname. Dit behels meestal landname en name van hoof- en ander belangrike stede of plekke. Ek het nog nooit gehoor dat iemand kla omdat Great Britain of die United Kingdom in Afrikaans Groot-Brittanje of die Verenigde Koninkryk genoem word nie, of dat Deutschland in Frans Allemagne, in Engels Germany of in Afrikaans Duitsland is nie, of dat Engeland in Frans Angleterre is nie. Tog is dit wesenlik dieselfde verskynsel as bogenoemde.

By sulke geografiese name speel tradisie dikwels ’n groot rol: Die name wat ons in Afrikaans gebruik, is baie dikwels soos ons dit geërf het uit die Europese tale, veral Nederlands, wat Afrikaans help vorm het. Om egter enige konsekwente patroon hierin te probeer vasstel, is futiel en onmoontlik – dit bestaan nie. Ons gebruik byvoorbeeld Rome, Napels en Venesië, en nie Roma, Napoli of Venezia nie; terselfdertyd behou ons Padua, Bologna en Livorno (wat Engels veral vroeër Leghorn genoem het!) onveranderd. Ons verafrikaans London tot Londen, maar verander niks aan Belfast, Dublin, Cardiff of Edinburgh nie.

Maar wat nou gemaak as die inheemse skrif nie die Romeinse alfabet gebruik nie? Die Afrikaanse drukmedia kan tog nie sulke name in die taal van herkoms druk nie.

Hoeveel mense gaan byvoorbeeld weet dat 김정은 eintlik Kim Jong-oen is en 평양 Noord-Korea se hoofstad Pjongjang benoem? Of dat Αθήνα Athene is? Of dat Москва Moskou is?

Hierdie probleem word op drieërlei wyse op grond van transliterasie gehanteer. Transliterasie is nie dieselfde as vertaling nie. Vertaling behels dat wat in een taal gesê word, met behoud van betekenis idiomaties in die doeltaal weergegee word.

Transliterasie behels daarenteen dat die letters of skriftekens van die brontaal een vir een vervang word deur letters of skriftekens van die doeltaal wat ’n ander alfabet gebruik, en dat die klanke wat die skriftekens in die brontaal verteenwoordig, so na as moontlik in die doeltaal weergegee word. Dit beteken dat die resultaat van transliterasie uit Taal 1 nie noodwendig dieselfde gaan lyk as in Taal 2 en Taal 3 nie omdat 2 en 3 dit volgens hulle eie klankstelsel en ortografie gaan doen.

Eerstens kan ’n taal wat nie die Romeinse alfabet gebruik nie, ’n amptelike transliterasiestelsel ontwikkel waarvolgens name in die brontaal vir internasionale gebruik in die Romeinse alfabet weergegee word; dit is byvoorbeeld in Chinees en Japannees gedoen. Tweedens word daar onder leiding van die VN gepoog om sulke getranslitereerde name – veral geografiese name – te standaardiseer en te internasionaliseer. Derdens kan daar per taal transliterasietabelle opgestel word. Laasgenoemde is egter seker ’n onbegonne taak as in ag geneem word hoeveel tale daar is en hoeveel taalkombinasies dit sal oplewer. Wat Afrikaans en Russies betref, is daar egter in die laaste drie uitgawes van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (2002, 2009 en 2017) ’n transliterasietabel (opgestel deur prof. Ernst Kotzé) wat die Cyrilliese alfabet met voorbeeldwoorde bevat en die ooreenstemmende letters en woorde in Afrikaans en Engels aangee.

Standaardisering en internasionalisering sal seker onvermydelik daartoe lei dat veral geografiese name met die Engelse transliterasie kan ooreenstem, hoewel geensins noodwendig nie. Die Engelse uitspraak, en dus hoe Engels ’n naam gaan translitereer, is allesbehalwe onproblematies – dink maar hoe Engels sukkel met die g-klank in byvoorbeeld Afrikaanse woorde soos gou en weg, of met Duitse woorde soos ich en nach en selfs Skotse woorde soos loch.

Engels is dus nie die transliterasie-evangelie nie.

Dit bring ’n mens weer terug by die Russiese president: In die Cyrilliese alfabet is hy Владимир Путин, wat, as dit volgens die standaardtransliterasietabel in die jongste Afrikaanse woordelys en spelreëls getranslitereer word, in Afrikaans Wladimir Poetin is (ook Nederlands translitereer dit so) en in Engels Vladimir Putin. Verskeie ander Europese tale kom ook by Putin uit, maar in Frans is dit Poutine en in Fries Pûtin.

Dit is dus duidelik dat tale die naam volgens hulle eie stelsels translitereer, dat die Engelse weergawe nie die enigste waarheid is nie en dat Die Burger se spelling vir Afrikaans dus volkome korrek is.


’n Gewysigde en verkorte weergawe van hierdie artikel het op 19 Maart 2022 in Die Burger en op Netwerk24 verskyn.

Afrikaans slag lankal die heilige koeie

Maart 2022

Wat presies sou swak Afrikaans wees as daar nie reëls is oor hoe Afrikaans moet lyk nie, vra Suléne Pilon, voorsitter van die Afrikaanse Taalkommissie, na aanleiding van Max du Preez van Vrye Weekblad se onlangse nuusbrief oor die demokratisering van Afrikaans. Is die Afrikaans wat vir Max irriteer, swak? En is al die reëls waarvan hy nie hou nie, irriterend?

Max du Preez vaar in die VWB-nuusbrief van 21 Maart 2022 uit teen die “akademiese ooms” en “tantes” wat aan Afrikaanse taalgebruikers “wil voorskryf hoe algemeen beskaafde Afrikaans gebesig moet word”. Hy skryf dat dit nou oukei is om ander variëteite as Standaardafrikaans te gebruik (was dit ooit nié oukei nie?), en dat daar twee goed is wat hom as Afrikaansskrywer irriteer: “[M]ense wat uit pure luiheid swak Afrikaans besig, en die ewige gemaak van reëls oor hoe Afrikaans moet lyk.”

Wat presies sou swak Afrikaans wees as daar nie reëls is oor hoe Afrikaans moet lyk nie? Is die Afrikaans wat vir Max irriteer, swak? En al die reëls waarvan hy nie hou nie, irriterend? Dit is ironies dat hy dan self die res van sy skrywe wy daaraan om reëls te maak oor hoe Afrikaans moet lyk. Hy skets taalkundiges en taalpraktisyns as die vyande van die Afrikaanse sprekergemeenskap – asof ons met ons reëls daarop uit is om Afrikaanse mense se lewens so moeilik as moontlik te maak. Anders as Max, wat met sý reëls oor hoe Afrikaans behoort te lyk, die taal “demokratiseer”.

Wat ons hier nie uit die oog moet verloor nie, is dat dit eintlik maar net nog ’n voorbeeld is van die (deesdae) oorbekende verdagmakery van die wetenskap. Net soos wat ’n antivakser haar nie deur mediese kenners gaan laat voorskryf wanneer dit kom by mediese sake nie, gaan Max hom nie deur taalkenners laat voorskryf wanneer dit kom by taalsake nie.

Die realiteit is dat taalgebruikers kan doen net wat hulle wil wanneer hulle skryf. Niemand gaan vanaand by jou huis opdaag om rekenskap te vra van jou taalgebruik nie. Gaan dus gerus voort en gebruik Afrikaans nes jy wil. Solank jy besef dat jou taalgebruik potensieel gaan inmeng met die effektiwiteit van jou kommunikasie (daar is tallose groepies op sosiale media waar skryfsels gedeel word waarin die taalgebruik kommunikasie totaal en al belemmer). Vir dié taalgebruikers wat graag die konvensies van Standaardafrikaans wil volg, bestaan daar bronne, instansies en persone wat kan – en graag wil – help. En as jy geïrriteerd voel omdat ons wil help, is dit jou indaba. Hiermee sou ek eintlik kon volstaan, maar daar is ’n drietal aspekte in Max se skrywe wat myns insiens verdere bespreking regverdig.

Standaardafrikaans

Max is duidelik onder ’n wanindruk oor wat presies ons bedoel wanneer ons praat van “Standaardafrikaans”. Hy stel Standaardafrikaans op onsubtiele wyse gelyk aan “algemeen beskaafde Afrikaans” – ’n term wat lank reeds uitgediend is. In die voorwoord van die 2017-uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) word Standaardafrikaans beskryf as “ … die dinamiese, lewende produk van kontak tussen die verskillende variëteite wat in die Afrikaanse taalgemeenskap in den brede gebruik word.” Daar staan vervolgens ook eksplisiet dat die TK “die ontwikkeling en gebruik van al die variëteite van Afrikaans in verskillende kontekste” aanmoedig, omdat hierdie variëteite die onderbou en voedingsbron van die standaardvorm is.

Die TK beskou Standaardafrikaans dus as daardie variëteit van Afrikaans wat deur die grootste gedeelte van die Afrikaanse sprekergemeenskap verstaan word. Hierdie variëteit word meestal as hoëfunksie-kommunikasiemiddel gebruik, juis omdat dit onopvallend is, en daarom meestal die “boodskap” of die kommunikatiewe funksie van die teks vooropstel. Dit is tipies ook die variëteit wat in die media gebruik word. Standaardafrikaans is egter lankal nie meer ’n vooraf gedefinieerde variëteit wat van bo af op die skrywende volk afgedwing word nie. Die TK werk al vir meer as 10 jaar toenemend gebruiksgebaseerd, wat beteken dat ons ons besluite (en die irriterende reëls wat ons maak) op werklike taaldata baseer. Die Afrikaans in Vrye Weekblad is daarom per definisie Standaardafrikaans, omdat dit een van die bronne is waarna die TK kyk wanneer ons dié variëteit beskryf.

Max skryf ook dat daar by die oorspronklike Vrye Weekblad “ ’n hele paar heilige koeie slagpale toe gestuur” is, omdat hulle besluit het dat hulle gaan skryf soos hulle praat. Hierdie stelling is ’n klein giggeltjie werd, aangesien “skryf soos ons praat” al sedert die publikasie van die eerste AWS in 1917 een van die grondbeginsels van die Afrikaanse spelling is.

Biljoen/miljard

Iets anders waaroor Max kennelik trots is, is die feit dat VWB “biljoen” in plaas van “miljard” gebruik. Om kortliks te kontekstualiseer: Daar bestaan twee skale waarvolgens getalle benoem word, naamlik die kort skaal en die lang skaal. Die kort skaal tel miljoen (106), biljoen (109), triljoen (1012), kwadriljoen (1015), kwintiljoen (1018), ensovoorts. Die lang skaal tel miljoen (106), miljard (109), biljoen (1012), biljard (1015), triljoen (1018), ensovoorts. Die kort skaal word in Engelstalige lande gebruik en die lang skaal meestal op die Europese vasteland. In Suid-Afrika word die lang skaal wetlik voorgeskryf vir alle Suid-Afrikaanse tale, maar, in navolging van die Engelstalige wêreld, word die kort skaal dikwels in Engelse publikasies gebruik. Die lang skaal word (in navolging van die wet) in die AWS vir Afrikaans voorgeskryf.

Die besluit van ’n publikasie om goedsmoeds die kort skaal te gebruik, is, om verskeie redes, problematies. Hoofsaaklik omdat dit juis vir ingeligte lesers wat weet dat die lang skaal in Afrikaans gebruik moet word, verwarrend gaan wees. En van verwarring gepraat: Wat nou in VWB gebeur, is dat “biljoen” en “miljard” in dieselfde teks gebruik word om te verwys na 109, omdat “miljard” in ’n aanhaling gebruik is (byvoorbeeld hier).

Transliterasie

Daar is die afgelope weke baie oor transliterasie gepraat en gestry en gebaklei, en daar bestaan duidelik ’n persepsie dat transliterasie en verafrikaansing dieselfde ding is. Max skryf byvoorbeeld: “Transliterasie sê ons moet sulke name [verwysende na name wat met die Cyrilliese alfabet geskryf is] verafrikaans om die uitspraak te weerspieël.” Dit is nie die geval nie. Verafrikaansing is herspelling (‘respelling’), ’n proses waarmee gepoog word om die Afrikaanse uitspraak van ’n woord te weerspieël. Dit het aanleiding gegee tot Afrikaanse woorde soos “oukei”, “herrie” en “jogurt”.

Transliterasie, daarenteen, is die proses waarmee letters van een alfabet sistematies omgesit word na letters van ’n ander alfabet. Ons probeer dus om, sover moontlik elke letter in die on-Romeinse alfabet te vervang met ’n letter in die Romeinse alfabet. Hoekom is transliterasie dan taalspesifiek? Want letters word in verskillende tale met verskillende klankwaardes geassosieer. In Spaans, byvoorbeeld, word ’n geassosieer met die klankwaarde wat in Afrikaans met die soos in “gans” geassosieer word.

Hierdie verskille word geïgnoreer in die transliterasie van tale soos Chinees waarvoor daar internasionale transliterasievoorskrifte neergelê is. ’n Woord wat uit Chinees getranslitereer word, gaan daarom dieselfde lyk in alle tale wat die Romeinse alfabet gebruik. Vir ander tale (Grieks, Arabies, Russies en Oekraïens, byvoorbeeld) bestaan daar nie sulke internasionale voorskrifte nie. Tale wat die Romeinse alfabet gebruik, moet in sulke gevalle self transliterasieriglyne daarstel, en dan word die taalspesifieke klankwaardes wat met letters geassosieer word, wel in berekening gebring. Dit is daarom nie altyd geskik om gewoon te translitereer soos wat Engels translitereer nie. Dit werk weliswaar vir gevalle soos “Vladimir Putin” – ‘n eienaam wat al vir jare lank gereeld in Engelse publikasies gebruik word.

Wat moet ’n Afrikaansspreker egter maak met “Kyiv”? Hoe is ek veronderstel om dit uit te spreek? Kei-if? Kei-ief? Kei-iw? Want nog nooit het ek ‘n y teëgekom wat as “ie” uitgespreek word nie, en nog nooit het ek ’n i uitgespreek as “jie” nie. Dit is ook vreemd om ’n aan die einde van ’n Afrikaanse woord te gebruik. Dit is onsinnig om die naam van die Oekraïense hoofstad só te spel in Afrikaans. Die Oekraïenstransliterasietabel wat voorlopig deur die TK goedgekeur is, bepaal dat ons moet skryf “Kijif”. Dit gaan dalk ook uitspraakprobleme tot gevolg hê, maar Afrikaanssprekers het darem al in woorde soos “identiteit” gesien dat ’n i as “ie” uitgespreek kan word. En, let op, ons translitereer dit nie as “Kiejief” nie – dit sou ’n voorbeeld van verafrikaansing wees.

Vrye Weekblad, Menings & debat: Lees dit ook hier

Vrye Weekblad, Maandag 21 Maart 2022
25 Maart 2022

‘Skoenmaker, hou jou by jou lees’

Ook Tom McLachlan, een van die ‘ooms’ wat Afrikaans skryf, vat Max du Preez aan oor sy ‘kontroversiële en betwisbare stellings’ oor Afrikaans na aanleiding van sy nuusbrief oor die ‘demokratisering’ van die taal. Lees Tom se brief hier.

Oor taalpuriste, kleinhuisiegate en stywe stokke

In sy nuusbrief van 21 Maart 2022 nooi Max du Preez lesers van Vrye Weekblad om oor Afrikaanse taalreëls te skryf. Wat pla? Wat pla nie? Hier is ’n keur uit van die ander reaksies.