Hoof- of kleinletter?
Het jy al gewonder hoekom ons in Afrikaans 𝘀𝗰𝗵𝗮𝗱𝗲𝗻𝗳𝗿𝗲𝘂𝗱𝗲 met ’n kleinletter skryf, terwyl dit in Duits met ’n hoofletter begin? Of waarom ons van 𝗷𝗲𝗿𝘀𝗲𝘆 en 𝗰𝗮𝗯𝗲𝗿𝗻𝗲𝘁 kan praat, met óf sonder ’n hoofletter? Die 2017-AWS gee duidelike riglyne hieroor.
𝗟𝗲𝗲𝗻𝘄𝗼𝗼𝗿𝗱𝗲 𝗶𝗻 𝗔𝗳𝗿𝗶𝗸𝗮𝗮𝗻𝘀
Volgens die opmerkings by AWS 20.2 begin leenwoorde wat in die brontaal met ’n hoofletter geskryf word, in Afrikaans met ’n kleinletter, tensy die reëls vir hoof- en kleinlettergebruik in Afrikaans anders bepaal. Kyk byvoorbeeld na schadenfreude, bildungsroman, umlaut, zeitgeist, en die lys gaan aan. Dieselfde geld titels wat uit ander tale ontleen is, soos lord en herr, wat volgens Afrikaanse spelreëls met ’n kleinletter begin. Daar is egter uitsonderings, soos die eienaam El Niño, waar Afrikaanse hoofletterreëls van toepassing is.
𝗗𝗶𝗲𝗿𝗲𝗿𝗮𝘀𝘀𝗲, 𝗽𝗹𝗮𝗻𝘁𝘀𝗼𝗼𝗿𝘁𝗲 𝗲𝗻 𝗸𝘂𝗹𝘁𝗶𝘃𝗮𝗿𝘀
Volgens AWS 9.7 MOET gewone diername, soos olifant en duif, in Afrikaans met kleinletters begin. Dit geld ook ’n geval soos zambezihaai, waarvan die eerste deel ’n eienaam is. Volgens AWS 9.7.d kan die name van spesifieke diererasse, plantvariëteite en kultivars egter met ’n klein- óf hoofletter begin. Hoewel die AWS in die Woordelys die kleinlettergebruik as voorkeurvorm aangee, laat tradisie soms ruimte vir die gebruik van ’n hoofletter. So kan die leenwoorde bonchrétienpeer, stichelbaut (duifsoort), chihuahua (soort hond) en jersey (soort bees) in Afrikaans met ’n hoof- óf kleinletter geskryf word. Indien die benaming egter ’n multiwoordeienaam is, soos Père David‑hert, word die hoofletters en spasies behou (kyk AWS 9.7.b).
𝗘𝗶𝗲𝗻𝗮𝗮𝗺𝘃𝗲𝗿𝗯𝗹𝗲𝗸𝗶𝗻𝗴
Indien ’n multiwoordeienaam mettertyd ’n soortnaam geword het (d.i. eienaamverbleking ondergaan het, die proses waardeur die verband met die entiteit waarop die eienaam betrekking het, gaandeweg vervaag), soos portjacksonboom of vanwykshout, word die spasies weggelaat en word die hoofletters kleinletters (kyk AWS 9.23).
Gebruik dus die volgende goue reëls om jou te lei:
↦ Gebruik kleinletters vir leenwoorde wat in Afrikaans as soortname optree, asook vir soortname van diere en plante.
↦ Gebruik hoofletters vir multiwoordeiename en spesifieke kultivar- en rasbenamings, soos Père David‑hert, tensy die woord nie meer as ’n eienaam funksioneer nie.
↦ Wanneer ’n naam ’n algemene soortnaam geword het, soos jersey (beesras), is ’n kleinletter aan die begin die voorkeurvorm, maar ’n beginhoofletter bly tradisioneel aanvaarbaar.
Monique Rabe, 23 November 2024
Groen lig vir los skryf van kleuradjektiewe
Reël 15.32 in die 2017-AWS bepaal dat ’n adjektief (ADJ) en ’n naamwoord (N) wat betekenisverdigting ondergaan het, anders as ander ADJ-N-kombinasies (soos “groot hond” en “lekker vakansie”), vas geskryf moet word. Daar word dan voorbeelde aangebied soos “donker kamer” (‘kamer wat donker is’) en “donkerkamer” (‘plek waar foto’s ontwikkel word’), en “groot mens” (‘mens wat groot van postuur is’) en “grootmens” (‘volwassene’) aangebied. In hierdie voorbeelde is die vas geskryfde vorm telkens die een wat betekenisverdigting ondergaan het. Hieruit is dit duidelik dat betekenisverdigting daartoe lei dat ’n ADJ-N-kombinasie ’n ander, gespesialiseerde betekenis kry. Hierdie betekenis verskil van die tipiese betekenis van die ADJ en die N. En in sulke gevalle moet die ADJ en N aan mekaar vas geskryf word om aan te dui dat die gespesialiseerde betekenis bedoel word.
Die opmerking by die reël sê dan dat dit soms moeilik is om te bepaal of betekenisverdigting ter sprake is en dat daar in sulke moeilike gevalle los of vas geskryf kan word. By die opmerking is voorbeelde soos “rooi wyn” (‘wyn wat rooi is’) en “rooiwyn” (‘spesifieke tipe wyn’). Laasgenoemde is ’n moeilike geval, aangesien rooiwyn ook altyd rooi wyn is, en aangesien dit waarskynlik selde gebeur dat iemand witwyn (wit wyn?) met rooi kleursel sal rooi kleur om dan rooi wyn te wees. Alhoewel dit dus moontlik is om ’n betekenisverskil tussen “rooi wyn” en “rooiwyn” aan te dui, sou ’n mens kon redeneer dat dit nie nodig is om “rooiwyn” vas te skryf om dit sodoende van “rooi wyn” te onderskei nie. As jy egter ’n sterk onderskeid aanvoel, laat die opmerking jou toe om dit wel te doen.
’n Ander kwessie wat hier ter sprake is, is die metaforiese/figuurlike gebruik van ADJ-N-kombinasies. As jy vir iemand die groen lig wil gee om met ’n projek voort te gaan, gee jy hulle dan die “groen lig” of die “*groenlig”? Want ’n groen lig is ’n lig wat groen is, maar as jy iemand toestemming gee om iets te doen, wys jy tog nie letterlik vir hulle ’n lig wat groen is nie. Daarom wil mense dikwels hierdie tipe kombinasies ook vas skryf en dan betekenisverdigting pleit. Maar hier het nie betekenisverdigting plaasgevind nie. ’n Groen (verkeers)lig beteken dat ’n mens maar kan ry – dus kan voortgaan. Wanneer jy “groen lig” gebruik om vir iemand te sê ‘gaan maar voort’, doen jy as ’t ware dieselfde as ’n verkeerslig. “Groen lig” het dus reeds ’n gaan-maar-voort-konnotasie en dit is hierdie konnotasie wat maak dat jy vir iemand die groen lig kan gee wanneer hulle kan voortgaan. “Groen lig” kry hier dus geen nuwe betekenis wat van die gewone betekenis van “groen lig” onderskei moet word nie. Dit hoef daarom nie vas geskryf te word nie.
Hierdie kwessie bly weliswaar ’n moeilike een en dit het al groot gevegte tydens TK-vergaderings veroorsaak. Die goue reël is: Skryf los wat los geskryf KAN word, en skryf vas wat vas geskryf MOET word. ADJ-N-kombinasies behoort dus net vas geskryf te word in gevalle waar lesers verkeerd gaan verstaan as dit los geskryf is.
Suléne Pilon, 20 November 2024
Tripel?
VivA Afrikaans het onlangs hierdie taalwenk geplaas oor die spelling van tripel (‘drievoudig’, byvoorbeeld “Kan ek ’n tripel brandewyn kry, asseblief?”) en trippel (‘vinnig met kort treetjies hardloop’ of ‘op een plek rondtrap’, byvoorbeeld “Kyk hoe trippel die hondjie rond voordat hy sy kos kry!”). Baie mense was kwaad daaroor dat die woorde so gespel word en ek sien in die kommentaar by die plasing kwessies wat ons dikwels teëkom by ontstelde taalgebruikers (wat gekonfronteer word met ’n feit wat nie strook met hul kennis nie).
Ek wil hier gou eers verduidelik waarom hierdie twee woorde gespel word soos wat in die taalwenk aangedui word, en dan wil ek blitsvinnig iets sê oor van die kommentaar by die plasing.
Beide hierdie woorde het via Nederlands in Afrikaans beland en in Nederlands word hulle hede den dage ook gespel soos wat in VivA se taalwenk aangedui word. Die Nederlandse woord tripel is uit Frans geleen (waar dit triple gespel word). Die Franse woord kan teruggevoer word na die Latynse triplus wat ‘drievoudig’ beteken. Die woord het dus al lankal net een p (en die Engelse woord vir ‘drievoudig’ is insgelyks triple – ook so met een p). Ons het die spelling van hierdie woord dus via Nederlands uit Frans en Latyn geleen.
Kyk hier en hier vir meer inligting oor die etimologie van tripel. Die Nederlandse trippelen (die woord waarvandaan ons trippel kom) is al in vroeë Nieunederlands met twee p’s gespel (kyk hier). Ons het hierdie spelling dus ook so uit Nederlands gekry.
Dit is wel so dat sommige woordeboeke trippel as wisselvorm vir tripel aangee en dit getuig (waarskynlik) van die verwarring wat oor die spelling van tripel heers – leksikograwe sien duidelik dikwels in geskrewe bronne dat mense trippel skryf wanneer hulle eintlik tripel bedoel. Wanneer ek vinnig in die TK-korpus soek, is die verwarring ook baie duidelik. Daar vind ek geen trefslae vir tripel nie en 96 vir trippel. Van hierdie 96 trippel-gevalle is 13 gebruik om ‘drievoudig’ te beteken – 8 van hierdie 13 is deel van eienaamwoorde (5 is verwysings na Annelie Botes se boek Trippel Sewe en 3 is verwysings na ’n produksie getiteld “Die Trippel M show – Maniese Mozart-Manewales”). As jy dus nog altyd trippel skryf wanneer jy tripel bedoel, is jy nie alleen nie!
Die eerste beginsel wat die TK gebruik wanneer ons woorde in die AWS opneem, is egter taalkundige korrektheid. Gegewe die geskiedenis van die woorde is dit taalkundig korrek om te skryf tripel wanneer ‘drievoudig’ bedoel word. Daarom word dit ook in die 2009- en 2017-AWS as die enigste spelling vir hierdie woord aangedui. (Die WAT dui byvoorbeeld ook aan dat die spelling trippel wanneer ‘drievoudig’ bedoel word, “minder korrek” is). Dat die meeste mense kennelik trippel skryf wanneer tripel bedoel word, beteken nie dat dit korrek is nie. Dit verklaar wel waarom heelparty mense by VivA se taalwenk skryf dat die spelling met een p “net nie reg lyk nie”. Die woord word so dikwels verkeerd gespel dat die verkeerde spelling ingeburger is; mense is dus gewoond daaraan om dit verkeerd gespel te sien.
’n Ander argument wat ek dikwels in die kommentaar op VivA se plasing raaklees (en, soos ek reeds gesê het, ook in kommentaar op ander plekke waar taalgebruikers ontsteld is oor taalkwessies), kan opgesom word as “ek spel/skryf dit al my lewe lank anders, so ek gaan aanhou om dit anders te doen” of “my gunstelingjuffrou het my op laerskool anders geleer en daarom is julle verkeerd”. Hierdie argument is vir my altyd die heel vreemdste. As jy jou lewe lank al iets verkeerd doen, gebaseer op foutiewe of gebrekkige inligting, hoekom sou jy nou, met beter inligting tot jou beskikking, wou aanhou om iets verkeerd te doen? Dit bly verkeerd.
Ons het die wonderlike vermoë om met meer en beter inligting tot ons beskikking, ons opinies oor sake en ons gedrag daar rondom te kan verander. Die feit dat jy gebrekkige of onvoldoende inligting oor ’n saak gehad het, is niks om oor skaam te wees nie. Ek was reeds op die TK toe ek geleer het dat op pad twee woorde is, en ek het omtrent twee jaar gelede eers geleer dat, byvoorbeeld, NG kerk en SA tale sonder ’n koppelteken geskryf moet word (omdat die afkorting telkens die afgekorte vorm van ’n adjektief is en dit daarom los van die naamwoord geskryf moet word). Ek voel nie skaam daaroor nie – ek is bly dat ek nou van beter weet en ek sal op pad en SA tale nooit weer verkeerd skryf nie. Ek sou wel moes skaam kry as ek, met hierdie nuwe kennis, aangehou het om dit verkeerd te skryf.
Ek sien ook in die kommentaar op VivA se taalwenk dat trippel en tripel dieselfde uitgespreek word, en dat dit daarom belaglik is om dit verskillend te spel. Daaroor wil ek maar net voorbeelde van Afrikaanse homofone soos leuen en leun, fonds en vonds, brei en bry, en boordjie en boortjie hier aanbied. Die feit dat woorde dieselfde uitgespreek word, beteken nie noodwendig dat hulle dieselfde gespel moet word nie.
Suléne Pilon, 16 Julie 2024
2022–2023
Van Junie 2022 tot Maart 2023 het die TK, in samewerking met die Virtuele Instituut vir Afrikaans en RSG, in die RSG-ontbytprogram Op en Wakker ’n weeklikse taalrubriek aangebied. Ina Strydom het die vrae gevra en Suléne Pilon, TK-voorsitter, het geantwoord. Luister hier na die opnames.
28 maart 2023
stappe doen vs. stappe neem
Is slegs een van hierdie konstruksies korrek, of is daar ’n saak vir wisselvorme uit te maak? Suléne vertel wat die huidige stand van sake is.
21 MAART 2023
’n besluit neem of ’n besluit maak
Watter een is reg? Of is dit om’t ewe. Luister wat Suléne sê.
14 MAART 2023
snelgroeiende – sneller groeiende – snels groeiende
Wat gebeur in gevalle waar ’n bywoord ’n adjektief bepaal en jy dan die oortreffende trap van hierdie adjektief wil aandui? Suléne gee die antwoorde aan die hand van die voorbeeld snel groeiend (ook snelgroeiend).
7 MAART 2023
vergeleke met vs. vergeleke by vs. in vergelyking met
Is hierdie konstruksies sinonimies? Wat is reg en wat verkeerd? En wat van in vergeleke met? Suléne vergelyk.
28 FEBRUARIE 2023
Wanneer is iets ’n anglisisme?
Die kwessie oor anglisismes is een wat baie Afrikaanssprekendes hewig ontstel en veral die anglisismejagters tussen ons op aandag laat staan. Maar waar kom Afrikaanssprekendes se beheptheid hiermee vandaan, en is enige konstruksie wat net bietjie soos Engels klink of lyk, regtig ’n anglisisme? Suléne gee raad oor hoe om anglisismes in Afrikaans uit te ken.
21 FEBRUARIE 2023
saam (met)
Wat is aan die gebeur met die weglaat van die voorsetsel met in konstruksies waar dit verwys na meer as een persoon wat aan dieselfde handeling deelneem, soos Ons werk lekker *saam julle? Suléne bespreek ’n moontlike hipotese.
14 FEBRUARIE 2023
huidiglik
Die gebruik van die woord huidiglik lok dikwels hewige reaksie onder taalgebruikers uit. Suléne verduidelik hoekom en wat die hudige stand van sake betreffende dié woord is.
7 FEBRUARIE 2023
Voornaamwoordelike bywoorde
’n Voornaamwoordelike bywoord is ’n bywoord wat in die plek van ’n setselstuk gebruik word. ’n Setselstuk bestaan uit ’n setsel en die persoonlike voornaamwoord dit of die betreklike voornaamwoord wat. In Afrikaans kry voornaamwoordelike bywoorde soos daarmee, hiervoor en waarop tradisioneel voorkeur, maar deesdae sien ’n mens gereeld setselstukke soos met dit, vir dit en op wat in die plek daarvan. Suléne verduidelik die moontlike redes hiervoor.
31 JANUARIE 2023
met iets deel
Ek kan nie hiermee *deel nie. Suléne verduidelik waarom die woord deel in hierdie betekenis anglisisties is en stel alternatiewe voor wat jy in die plek daarvan kan gebruik.
24 JANUARIE 2023
testament tot
Jou prestasie is *(’n) testament tot jou toewyding. Suléne verduidelik vir Ina waarom hierdie uitdrukking in Afrikaans liefs vermy moet word.
17 januarie 2023
Metonimie
Metonimie is die taalkundige verskynsel dat ’n entiteit of saak nie direk benoem word nie, maar deur middel van die naam van ’n entiteit of saak wat ’n onderdeel daarvan is, of die naam van ’n entiteit of saak wat daarop betrekking het, daarmee verband hou of daarmee geassosieer word. Suléne verduidelik die gebruik van metonomie en gee voorbeelde van elke soort.
10 JANUARIE 2023
Die tyd is nou
Die woord nou is ’n veelsydige bywoord wat in Afrikaans verskillende betekenisse kan uitdruk. Suléne vertel hoe ons nou gebruik om tyd aan te dui.