Media en publikasies

Nuus oor relevante gebeure, publikasies, en skakels na artikels elders.

2024

  • In LitNet Akademies se SteedsDink-video’s vertel Afrikaanse akademici van die interessante navorsing waarmee hulle besig is. In hierdie video gesels oud-TK-voorsitter prof. Gerhard Van Huyssteen oor die ontstaan van sy navorsingsfokus, insluitende taalkunde, tegnologie en vloektaal.

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het op 1 November 2024 ’n nuwe uitvoerende hoof gekry.  Ina Strydom het met dr. Annelise de Vries gepraat oor die uitdagings wat met die pos gepaard gaan.


  • Die Taalkommissie neem met groot hartseer kennis van die afsterwe van prof. Hans du Plessis op 25 Oktober 2024, ’n voorvegter vir Afrikaans en sy variëteite. Hy het ’n onmisbare rol in die kodifisering van Afrikaanse variëteite soos Griekwa- en Kalahari-Afrikaans gespeel. Hy was ’n lid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, het van 1986 tot 1991 in die Taalkommissie gedien en het daarna nog gereeld aan die TK waardevolle raad en insig gebied. Sy kennis het nie net die TK verryk nie, maar ook die SAAWK, waar hy sy uitgebreide kennis van taalkunde en Afrikaans op verskeie maniere aangewend het. Met sy diepgaande liefde vir Afrikaans, sy grondige begrip van die taal, het hy as dosent, akademikus en skrywer ’n onuitwisbare bydrae gemaak. Sy nalatenskap as akademikus, mentor en skrywer leef voort in sy navorsing en publikasies. Ons eer hom as ’n bewaker van die rykdom van Afrikaans wat opklink uit vele gemeenskappe.


  • Van harte geluk aan prof. W.A.M. (Wannie) Carstens, oud-TK-lid (1991-2003) en voormalige voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (2011-2014), wat vanjaar die gesogte Jan H. Maraisprys ontvang het.

Met die bekendstelling van die Afrikaans Amptelik 100-veldtog en feesvieringe was daar gemengde reaksie. Ondanks die gemengde reaksie, is daar een ding wat gemeen is: ‘n liefde vir Afrikaans. Die letterkundige professor Hein Willemse het op Afrikaans se 99ste viering as amptelike taal ‘n lesing oor die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aangebied.

  • Op Woensdag 8 Mei 2024 – presies 99 jaar sedert Afrikaans op 8 Mei 1925 in die destydse politieke bedeling een van Suid-Afrika se twee amptelike tale geword het, naas Engels en in die plek van Nederlands – bied prof. Hein Willemse, emeritus professor van die Universiteit Pretoria, ’n gaslesing oor die herkoms van Afrikaans aan.

  • Op Vrydag 19 April maak die Raad van die SA Akademie die ontvangers van die Akademiepryse vir 2024 bekend. Die C.L. Engelbrechtprys vir Taalkunde, wat elke vyfde jaar oorhandig word, word toegeken aan prof. Eleanor Cornelius van die Universiteit Johannesburg, vir Gewone taal: ’n oorsig, in 2020 uitgegee deur African Sun Media.
  • Ter viering van Internasionale Moedertaaldag op 21 Februarie gee dr. Willa Boezak, op uitnodiging van die SA Akademie ’n hibriede gaslesing oor die variëteite van Afrikaans.

Lesingreeks skep bewustheid oor Afrikaanse Taalkommissie


  • Afrikaans is toenemend onder druk by universiteite, skole, in howe en in die werkplek, maar internasionaal groei die belangstelling in die taal. Die organiseerder van die 4de Internasionale Afrikaansgrammatikawerkwinkel, TK-lid Monique Rabé, vertel vir Ina Strydom van die referate wat gelewer is.

Besoek die kongreswebblad om die afsonderlike artikels in die kongrespublikasie af te laai.

2023

  • Akademia het op 16 November ’n seminaar oor die stand van Afrikaans in die Suid-Afrikaanse regswese gehou. Dit sluit ook aan by die Afrikaanse Taalraad (ATR) se groter projek oor die stand van Afrikaans. Die dekaan van Akademia se regsfakulteit, prof. Hermie Coetzee, en ’n dosent in opvoedkunde en TK-lid, dr. Annelise de Vries, vertel vir Ina Strydom meer oor die onderwerpe wat bespreek is, en deel ’n paar aanbevelings.
  • “Leer jou kinders om Afrikaans te praat, want solank as wat daar kinders is wie se moedertaal Afrikaans is, gaan daar niks met Afrikaans gebeur nie.” Maroela Media gesels met TK-voorsitter, Suléne Pilon.
  • Die Projek oor Variasie in Afrikaans (ProVARIA) is gestig om navorsing oor die variëteite van Afrikaans beter te koördineer en te sentraliseer, sowel as om navorsingsleemtes uit te wys en samewerking tussen akademici van verskillende universiteite en organisasies te bevorder.
Vier Taalkommissielede, Marius Swart, Annelise de Vries, Suléne Pilon en Monique Rabé, langs al die uitgawes van die AWS (regs bo) in die biblioteek van die WAT.

Op Netwerk24

“‘Unieke navorsingsprojek’ oor variasie in Afrikaans begin”

Nuut by Van Schaik-Uitgewers
  • Die eerste boek oor toegepaste taalkunde in Afrikaans dek onderwerpe wat wissel van lees- en leeronderrig, taalbeplanning en taalpolitiek tot psigolinguistiek, sosiolinguistiek en onomastiek, of naamkunde. Hier onder vertel die redakteurs, proff. Tobie van Dyk en Wannie Carstens, en die projekbestuurder, DJ Cloete, vir Ina Strydom van die boek en die projek. 
  • Uiteenlopende teoretiese en metodologiese perspektiewe bring nuwe insigte in die studie van die grammatika van Afrikaans. Die Afrikaans Grammar Workshop of Afrikaansgrammatikawerkwinkel (AGW), ’n inisiatief van die Nederlandse Meertens Instituut, die Universiteit van Michigan in die VSA en die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA), is ’n tweejaarlikse byeenkoms vir taalkundiges oral in die wêreld wat oor Afrikaans navorsing doen. Die vierde AGW word vanjaar op 27 en 28 November deur die Noordwes-Universiteit as ’n hibriede konferensie in Suid-Afrika aangebied. Teken solank die datum aan!

Klik hier onder om die oproep om referate af te laai, of besoek die kongreswebblad vir meer inligting.

  • Standaardtaal in die onderwys
    In Maart 2020 reeds het die Algemene Sekretariaat van die Nederlandse Taalunie ’n adviesstuk uitgereik oor die gebruik van die standaardvariëteit van Nederlands in die onderwys. Die advieskomitee het bestaan ​​uit Vlaamse en Nederlandse taalkundiges. In die aanlyn tydskrif vir taal- en letterkunde Neerlandistiek gee Kris van den Branden op 19 Februarie ’n oorsig van dié riglyne. Is daar raakpunte hier tussen Nederlands en Afrikaans?
  • Afrikaans in die klaskamer
    Ria Olivier van die Afrikaanse Taalraad vertel van die moeilike situasie waarin baie Afrikaansonderwysers hulle bevind. Die kurrikulum bepaal dat leerders voorberei moet word om in die gestandaardiseerde variëteit van Afrikaans te funksioneer, terwyl baie leerders se huistaal een van die ander variëteite, soos Kaapse Afrikaans of Namakwalandse Afrikaans, is. Hoe gemaak in gebiede waar die algemene spreektaal van die gestandaardiseerde vorm van Afrikaans verskil? Lees in LitNet se SA Skoleseminaar Naomi Meyer se vrae en Ria se antwoorde van 15 Februarie. Daar is ook ’n skakel na ’n podsending van die RSG-program Taaldinge oor dieselfde onderwerp, wat op 29 Januarie uitgesaai is.

2022

  • Is Standaardafrikaans steeds die beste term vir wanneer ons na die algemene variëteit van Afrikaans verwys? Hoe moet ons die gesprek oor dié variëteit, in samehang met Afrikaans se ander (streeks)variëteite, benader? Daaroor praat dr. Gerda Odendaal, ’n mederedakteur van die WAT, op 29 Augustus in Flambojante Afrikaans, ’n reeks gesprekke van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie, die Afrikaanse Onderwys Netwerk en die Afrikaanse Taalraad. Klik hier om haar aanbieding af te laai:
  • Wat is die aard van die gestandaardiseerde vorm van Afrikaans? Hoe pas dit tussen al Afrikaans se ander variëteite in? Hoe gaan die Taalkommissie te werk om algemene Afrikaans te beskryf? Die voorsitter van die TK, Suléne Pilon, praat hieroor met Ina Strydom.

  • Onder leiding van die Afrikaanse Taalraad (ATR) is beplanning onderweg vir ’n vraelys en studie oor die stand van Afrikaans. Dr. Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die ATR; prof. Anne-Marie Beukes, hoof- uitvoerende beampte van die SAAWK; en die taalkundige prof. Wannie Carstens verduidelik aan Ina Strydom wat beoog word.

  • In die RSG-program Taaldinge vertel prof. Rufus Gouws van die Universiteit Stellenbosch waarom Afrikaans as akademiese taal behoue moet bly en hoekom woordeboeke belangrik is. Die gesprek word gelei deur Ina Strydom.

“Moenie net die pap in die vlak potte van gemoedelike Afrikaans laat prut nie.

“Afrikaans mag nie ’n linguistiese bonsai word nie; dit moet ’n gevestigde wetenskapstaal bly.”

Rufus H. Gouws

  • “Standaardafrikaans word orals uitgedaag en loop nou hinkepink.” So sê prof. Elvis Saal van Unisa in ’n Jakes Gerwel-gesprek, Vele tongvalle, een taal, op 30 April 2022 by die Suidoosterfees in Kaapstad. Die ander deelnemers aan hierdie gesprek was Jeremy Vearey en Anzil Kulsen; die gesprekleier dr. Gerda Odendaal van die WAT. Lees ook oud-TK-voorsitter Tom McLachen se reaksie op wat daar gesê is.
  • Afrikaans oral waar jy kyk in die digitale wêreld – Benito Trollip, navorser by die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Digitale Taalhulpbronne (SADiLaR), April 2022
  • Vreemde name in Afrikaans – prof. Ernst Kotzé: Vrye Weekblad, 25 Maart 2022
  • Afrikaans slag lankal die heilige koeie – Suléne Pilon (TK-voorsitter): Vrye Weekblad, 23 Maart 2022
  • Oor tale en name – Tom McLachlan (oud-TK-voorsitter); ’n gewysigde en verkorte weergawe verskyn op 19 Maart 2022 op Netwerk24.

2021

  • Afrikaans en sy variëteite – Kabous Meiring in gesprek met Lyntjie Jaars, dr. Hendrik Theys en prof. Gerhard van Huyssteen in die KykNet-program Prontuit, 24 Mei 2021

2018

Standaardafrikaans en omgangsvariëteite van Afrikaans – Prof. Frank Hendricks (oud-TK-lid), ATKV-taalerfenissimposium.