Blog en podsendings

2022 – 2023

Van Junie 2022 tot Maart 2023 het die TK, in samewerking met die Virtuele Instituut vir Afrikaans en RSG, in die RSG-ontbytprogram Op en Wakker ’n weeklikse taalrubriek aangebied. Ina Strydom het die vrae gevra en Suléne Pilon, TK-voorsitter, het geantwoord. Luister hier na die opnames.

stappe doen vs. stappe neem

Is slegs een van hierdie konstruksies korrek, of is daar ’n saak vir wisselvorme uit te maak? Suléne vertel wat die huidige stand van sake is.

’n besluit neem of ’n besluit maak

Watter een is reg? Of is dit om’t ewe. Luister wat Suléne sê.

snelgroeiende sneller groeiende snels groeiende

Wat gebeur in gevalle waar ’n bywoord ’n adjektief bepaal en jy dan die oortreffende trap van hierdie adjektief wil aandui? Suléne gee die antwoorde aan die hand van die voorbeeld snel groeiend (ook snelgroeiend).

vergeleke met vs. vergeleke by vs. in vergelyking met

Is hierdie konstruksies sinonimies? Wat is reg en wat verkeerd? En wat van in vergeleke met? Suléne vergelyk.

Wanneer is iets ’n anglisisme?

Die kwessie oor anglisismes is een wat baie Afrikaanssprekendes hewig ontstel en veral die anglisismejagters tussen ons op aandag laat staan. Maar waar kom Afrikaanssprekendes se beheptheid hiermee vandaan, en is enige konstruksie wat net bietjie soos Engels klink of lyk, regtig ’n anglisisme? Suléne gee raad oor hoe om anglisismes in Afrikaans uit te ken.

saam (met)

Wat is aan die gebeur met die weglaat van die voorsetsel met in konstruksies waar dit verwys na meer as een persoon wat aan dieselfde handeling deelneem, soos Ons werk lekker *saam julle? Suléne bespreek ’n moontlike hipotese.

huidiglik

Die gebruik van die woord huidiglik lok dikwels hewige reaksie onder taalgebruikers uit. Suléne verduidelik hoekom en wat die hudige stand van sake betreffende dié woord is.

Voornaamwoordelike bywoorde

’n Voornaamwoordelike bywoord is ’n bywoord wat in die plek van ’n setselstuk gebruik word. ’n Setselstuk bestaan uit ’n setsel en die persoonlike voornaamwoord dit of die betreklike voornaamwoord wat. In Afrikaans kry voornaamwoordelike bywoorde soos daarmee, hiervoor en waarop tradisioneel voorkeur, maar deesdae sien ’n mens gereeld setselstukke soos met dit, vir dit en op wat in die plek daarvan. Suléne verduidelik die moontlike redes hiervoor.

met iets deel

Ek kan nie hiermee *deel nie. Suléne verduidelik waarom die woord deel in hierdie betekenis anglisisties is en stel alternatiewe voor wat jy in die plek daarvan kan gebruik.

testament tot

Jou prestasie is *(’n) testament tot jou toewyding. Suléne verduidelik vir Ina waarom hierdie uitdrukking in Afrikaans liefs vermy moet word.

Metonimie

Metonimie is die taalkundige verskynsel dat ’n entiteit of saak nie direk benoem word nie, maar deur middel van die naam van ’n entiteit of saak wat ’n onderdeel daarvan is, of die naam van ’n entiteit of saak wat daarop betrekking het, daarmee verband hou of daarmee geassosieer word. Suléne verduidelik die gebruik van metonomie en gee voorbeelde van elke soort.

Die tyd is nou

Die woord nou is ’n veelsydige bywoord wat in Afrikaans verskillende betekenisse kan uitdruk. Suléne vertel hoe ons nou gebruik om tyd aan te dui.


2022

’n Rare verskynsel

Afrikaanse normeringsbronne verskil oor die korrekte gebruik van die woord raar. So, hoe dan gemaak? Suléne gee leiding.

sorteer vs. ressorteer

Sorteer en ressorteer is twee werkwoorde wat dikwels verkeerd, die een in die plek van die ander, gebruik word. Suléne verduidelik die betekenisverskil tussen die twee en hoe om hulle korrek te gebruik.

Hooftelwoorde

Hoe skryf ’n mens ’n getal soos 4 600 346 in woorde? Suléne sit die reëls uiteen en maak aanbevelings vir die skryf van hooftelwoorde in Afrikaans.

betwis vs. uitdaag

Betwis en uitdaag is in Engels beide “challenge”. So, wanneer gebruik ’n mens watter een in Afrikaans? Suléne gee raad.

uithardloop

Suléne verduidelik vir Ina hoekom dit onidiomaties en anglisisties is om te praat van, byvoorbeeld, melk, tyd, papier of geld wat uithardloop.

Los en vas skryf

Daar is hoofsaaklik twee hulpmiddels (eselsbruggies) wat jy kan gebruik wanneer jy probeer uitpluis of ’n Afrikaanse woord vas of los geskryf moet word. Die een is klem en die ander een uiteenplaasbaarheid. Suléne gee wenke.

uit die oude doos

Waar kom hierdie uitdrukking vandaan? Is die gebruik daarvan vandag nog aanvaarbaar? Suléne gee leiding.

Die koppelteken in e-pos

Hoekom is die koppelteken in e-pos belangrik? Watter ander Afrikaanse woorde word ook so geskryf? Suléne vertel vir Ina.

heinde en verre en wyd en syd

Het jy al ooit oor die uitdrukkings heinde en verre en wyd en syd gewonder? Oor hoekom heinde en syd só gespel word? Suléne verduidelik waar die vreemde spelling van dié woorde in hierdie uitdrukkings vandaan kom.

afgelas

In die woord afgelas is daar ’n -ge-, maar dié -ge– dui nie die verlede tyd aan nie. Hoe werk dit? Suléne gee die antwoord op dié raaisel.

insette vs. insae

Wanneer gebruik ’n mens inset (“input”), en wanneer gebruik jy insae (“insight”)? Suléne ontwar die twee.

aantal vs. getal vs. hoeveelheid

Gebruik jy aantal, getal en hoeveelheid korrek? Weet jy dat jou keuse onder meer afhang van die soort naamwoord wat jy wil bepaal? Suléne verduidelik.

swanesang

Die woord swanesang word soms gebruik om na die laaste openbare optrede te verwys van iemand wat kort daarna aftree of sterf. So word dié laaste optrede, metafories, aan die mooi sang gelykgestel wat ’n swaan volgens oorlewering sou laat hoor pas voor dit doodgaan. Is dit waar? Sing sterwende swane? Suléne vat die spoor van dié woord en verhaal.

Kontaminasie

Kontaminasie (ook soms taalbesmetting genoem) is ’n proses waarby woorde of uitdrukkings wat min of meer dieselfde betekenis het, met mekaar vermeng raak. Suléne noem voorbeelde wat in Afrikaans voorkom en verduidelik hoe dit tot taalverandering bydra.

koningin-gemaal

Die TK aanvaar vir die Engelse queen consort voorlopig die Afrikaanse vertaling koningin-gemaal. Suléne verduidelik wat dit beteken en hoekom die koppelteken nodig is.

die handdoek ingooi

Het jy al (die) handdoek ingegooi? Weet jy watter soort idioom dit is? Kan jy aan nog Afrikaanse uitdrukkings dink wat dieselfde sê? Luister na Suléne.

trouens vs. inteendeel

Verwar jy soms die voegwoordelike bywoorde inteendeel en trouens? Watter verband bewerkstellig hulle onderskeidelik? Wanneer gebruik ’n mens watter een? Suléne verduidelik – ook die verskil tussen ’n voegwoordelike bywoord en ’n voegwoord.

mits vs. tensy

Hoe gebruik ’n mens die voegwoorde mits en tensy korrek? Is hulle sinonieme van mekaar, of is daar ’n nuanseverskil? Suléne tref die onderskeid.

aan die einde van die dag

Sê of skryf jy soms aan die einde van die dag? Is dit aanvaarbaar in Afrikaans? Of is dit ’n anglisisme wat jy moet vermy? Suléne plaas dit op die glyskaal van aanvaarbaarheid.

Die moraal van die verhaal

Moraal en moreel. Hierdie woorde word dikwels met mekaar verwar en verkeerd gebruik. Suléne verhelder die verskil en verband tussen die twee.

weerspreek vs. weerlê

Wanneer weerspreek ’n mens iets en wanneer weerlê jy dit? Suléne verduidelik die verskil.

’n bederf

Hoe word hierdie woord in Afrikaans gebruik? Positief, negatief of beide? Suléne gesels oor betekenisverskuiwing.

te wyte aan of te danke aan?

Wat is die verskil? Kan ’n mens sê die hoë petrolprys is te danke aan die oorlog in Oekraïne? Dit is wat Suléne sê.

grootliks vs. grotendeels

Wanneer word grootliks en wanneer grotendeels gebruik? Ken jy die verskil tussen dié twee egte bywoorde?

Konseptuele metafore

Kan ’n mens sê “die vergadering is onderweg”? Suléne verduidelik die rol van konseptuele metafore in taal.

die knie buig

Waar Afrikaanse uitdrukkings vandaan kom, is nie altyd duidelik nie. Suléne vertel waar die knie buig sy oorsprong het en bied alternatiewe aan.

Verlede tyd in Afrikaans

Die verlede tyd, en veral die verledetydsvoorvoegsel ge-, word gereeld verkeerd gebruik. Suléne verduidelik hoe die verlede tyd in Afrikaans aangedui word, wanneer die verledetydsvoorvoegsel gebruik word, en waar om leiding hieroor te kry.

Setselgebruik in Afrikaans

Voorsetsels is maar een tipe setsel. Suléne verduidelik die konvensies vir die gebruik van verskillende soorte setsels en waar om meer inligting oor setsels te vind.

Trappe van vergelyking

’n Taalfout wat gereeld voorkom, is die verdubbeling van trappe van vergelyking, bv. die *mees bekendste. Suléne sit die reëls uiteen wat ’n mens moet volg om trappe van vergelyking reg te gebruik.

Sien ook snelgroeiende – sneller groeiende – die snels groeiende. En luister na die TK se podsending oor die AWS se hoofstuk oor trappe van vergelyking, hoofstuk 16.

Inleiding

In hierdie eerste insetsel van die TK en VivA se taalrubriek in samewerking met RSG gee prof. Gerhard van Huyssteen, oud-TK-voorsitter en voormalige direkteur van VivA Afrikaans, agtergrond oor dié inisiatief. Die voorsitter van die TK, Suléne Pilon, wat die rubriek gaan behartig, word voorgestel.