Oor tale en name

19 Maart 2022

Taalkundig is die plaaslike verwysing na Rusland se pres. Wladimir Poetin korrek. Oud-TK-voorsitter Tom McLachlan verduidelik hoekom.

Die Burger het sedert die Russiese inval in Oekraïne ’n paar keer onder skoot gekom omdat hy die Russiese president se van Poetin spel, en nie Putin nie. Laasgenoemde spelling sou dan volgens die kritici “die man se van” wees.

Dis egter nie so eenvoudig nie, want hoewel Engels deesdae oor die wêreld heen ’n nuttige kommunikasietaal is, het ander tale en ander skrifstelsels nie net verdwyn nie, en dit beteken weer dat Engels nie die alleenreg het op hoe name geskryf en gespel moet word nie. Ons lewe immers in ’n veeltalige wêreld.

Nie al die tale in die wêreld word op dieselfde manier geskryf nie. Die meeste Westerse lande gebruik die Romeinse alfabet – die een waarin hier geskryf is. Sommige van dié tale voeg bykomende lettertekens (byvoorbeeld æ, å of ñ) wat nie gewoonlik in Afrikaans of Engels gebruik word nie, aan die alfabet toe omdat dit aan die betrokke taal se spesifieke uitspraak- of klankbehoeftes moet beantwoord.

In Europa word in Griekeland die Griekse alfabet gebruik, wat vir die meeste ander mense, wel, Grieks is, en in Rusland word die Cyrilliese alfabet gebruik. Die tale van die Midde-Ooste en Noord-Afrika is verskeie vorme van Arabies, en in Israel is dit Moderne Hebreeus. Sowel Arabies as Hebreeus word van regs na links geskryf en gelees, en die lettertekens toon visueel geen ooreenkoms met die Romeinse alfabet nie.

Asiese en Verre Oosterse lande – van Indië tot in China en Japan – gebruik ’n verskeidenheid van alfabette of skrifstelsels vir die tale wat in die betrokke lande geskryf word. Die meeste van dié skrifstelsels toon visueel ook hoegenaamd geen ooreenkoms met die Romeinse alfabet nie, en gevolglik is hulle vir gewone Westerlinge volkome ontoeganklik.

In ons moderne geglobaliseerde wêreld kan iets wat nou op een plek gebeur, blitsvinnig oral nuuswaardig wees. En hoe berig die pers daaroor as die gebeurtenis in ’n land plaasvind wat nie net ’n ander taal gebruik nie, maar ’n ander alfabet?

Hier geld twee beginsels: Die eerste is vertaling, wat behels dat die inhoud, die gegewens, die feite wat in een taal gestel word, met behoud van betekenis in ’n ander weergegee word. Name, veral van persone en plekke, kan egter nie in dié sin “vertaal” word nie. Wat wel al eeue lank gebeur, is, tweedens, dat sommige name “verinheems” word, dit wil sê die name word aangepas by die klank- en skryfstelsel van die “ontvangertaal”.

Vir baie mense is die bekendste waarskynlik die name van Bybelfigure. Dink byvoorbeeld aan die vier evangeliste, wat in Afrikaans Matteus, Markus, Lukas en Johannes is, in Engels Matthew, Mark, Luke en John, in Duits Matthäus, Markus, Lukas en Johannes, in Nederlands Matteüs, Marcus, Lucas en Johannes, in Frans Matthieu, Marc, Luc en Jean en in Spaans Mateo, Marcos, Lucas en Juan.

Tradisioneel is die name van belangrike historiese figure, byvoorbeeld monarge, pouse of ontdekkingsreisigers, by verskillende tale aangepas.

Die Engelse koning Henry VIII, bekend om sy vele vroue, word in Nederlands en Afrikaans tradisioneel Hendrik, in Duits Heinrich, in Frans Henri en in Noorweegs Henrik, maar ons sal waarskynlik nie wanneer die huidige Britse kroonprins die troon bestyg, van koning Karel III praat nie (dit wil sê as hy Charles as sy ampsnaam aanneem).

Die huidige pous, Franciskus, word in Italiaans Francesco, in Frans François, in Spaans Francisco, in Engels Francis en in Duits Franziskus genoem.

Die ontdekkingsreisiger wat ons in Afrikaans ken as Hendrik die Seevaarder heet in Engels Henry the Navigator, in Portugees Henrique o Navegador, in Duits Heinrich der Seefahrer, in Frans Henri le Navigateur, en in Spaans Enrique el Navegante.

Uit bostaande blyk onder meer dat sulke verinheemsings glad nie slegs by Afrikaans voorkom nie, dat daar ’n groter geneigdheid is om historiese name as moderner name te verinheems, en dat daar bloedweinig, indien enige, konsekwentheid of voorspelbare patroon in die verskynsel is.

Die laaste Duitse keiser, Wilhelm II, is in Engels meestal William genoem, in Noorweegs en Sweeds Vilhelm en in Frans Guillaume. Daarenteen noem Engels en Duits die huidige Nederlandse koning Willem-Alexander – dit word nie verengels of verduits nie; selfs in Frans word Willem-Alexander behou, hoewel Guillaume-Alexandre as alternatief geld. Spaans maak dit skynbaar Guillermo Alejandro.

Al bogenoemde voorbeelde behels name van persone in tale wat die Romeinse alfabet gebruik, en die enigste vrae is dus of die naam verinheems word en, indien wel, hoe.

Die ander groot kategorie van name wat verinheems word, is dié van plekname. Dit behels meestal landname en name van hoof- en ander belangrike stede of plekke. Ek het nog nooit gehoor dat iemand kla omdat Great Britain of die United Kingdom in Afrikaans Groot-Brittanje of die Verenigde Koninkryk genoem word nie, of dat Deutschland in Frans Allemagne, in Engels Germany of in Afrikaans Duitsland is nie, of dat Engeland in Frans Angleterre is nie. Tog is dit wesenlik dieselfde verskynsel as bogenoemde.

By sulke geografiese name speel tradisie dikwels ’n groot rol: Die name wat ons in Afrikaans gebruik, is baie dikwels soos ons dit geërf het uit die Europese tale, veral Nederlands, wat Afrikaans help vorm het. Om egter enige konsekwente patroon hierin te probeer vasstel, is futiel en onmoontlik – dit bestaan nie. Ons gebruik byvoorbeeld Rome, Napels en Venesië, en nie Roma, Napoli of Venezia nie; terselfdertyd behou ons Padua, Bologna en Livorno (wat Engels veral vroeër Leghorn genoem het!) onveranderd. Ons verafrikaans London tot Londen, maar verander niks aan Belfast, Dublin, Cardiff of Edinburgh nie.

Maar wat nou gemaak as die inheemse skrif nie die Romeinse alfabet gebruik nie? Die Afrikaanse drukmedia kan tog nie sulke name in die taal van herkoms druk nie.

Hoeveel mense gaan byvoorbeeld weet dat 김정은 eintlik Kim Jong-oen is en 평양 Noord-Korea se hoofstad Pjongjang benoem? Of dat Αθήνα Athene is? Of dat Москва Moskou is?

Hierdie probleem word op drieërlei wyse op grond van transliterasie gehanteer. Transliterasie is nie dieselfde as vertaling nie. Vertaling behels dat wat in een taal gesê word, met behoud van betekenis idiomaties in die doeltaal weergegee word.

Transliterasie behels daarenteen dat die letters of skriftekens van die brontaal een vir een vervang word deur letters of skriftekens van die doeltaal wat ’n ander alfabet gebruik, en dat die klanke wat die skriftekens in die brontaal verteenwoordig, so na as moontlik in die doeltaal weergegee word. Dit beteken dat die resultaat van transliterasie uit Taal 1 nie noodwendig dieselfde gaan lyk as in Taal 2 en Taal 3 nie omdat 2 en 3 dit volgens hulle eie klankstelsel en ortografie gaan doen.

Eerstens kan ’n taal wat nie die Romeinse alfabet gebruik nie, ’n amptelike transliterasiestelsel ontwikkel waarvolgens name in die brontaal vir internasionale gebruik in die Romeinse alfabet weergegee word; dit is byvoorbeeld in Chinees en Japannees gedoen. Tweedens word daar onder leiding van die VN gepoog om sulke getranslitereerde name – veral geografiese name – te standaardiseer en te internasionaliseer. Derdens kan daar per taal transliterasietabelle opgestel word. Laasgenoemde is egter seker ’n onbegonne taak as in ag geneem word hoeveel tale daar is en hoeveel taalkombinasies dit sal oplewer. Wat Afrikaans en Russies betref, is daar egter in die laaste drie uitgawes van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (2002, 2009 en 2017) ’n transliterasietabel (opgestel deur prof. Ernst Kotzé) wat die Cyrilliese alfabet met voorbeeldwoorde bevat en die ooreenstemmende letters en woorde in Afrikaans en Engels aangee.

Standaardisering en internasionalisering sal seker onvermydelik daartoe lei dat veral geografiese name met die Engelse transliterasie kan ooreenstem, hoewel geensins noodwendig nie. Die Engelse uitspraak, en dus hoe Engels ’n naam gaan translitereer, is allesbehalwe onproblematies – dink maar hoe Engels sukkel met die g-klank in byvoorbeeld Afrikaanse woorde soos gou en weg, of met Duitse woorde soos ich en nach en selfs Skotse woorde soos loch.

Engels is dus nie die transliterasie-evangelie nie.

Dit bring ’n mens weer terug by die Russiese president: In die Cyrilliese alfabet is hy Владимир Путин, wat, as dit volgens die standaardtransliterasietabel in die jongste Afrikaanse woordelys en spelreëls getranslitereer word, in Afrikaans Wladimir Poetin is (ook Nederlands translitereer dit so) en in Engels Vladimir Putin. Verskeie ander Europese tale kom ook by Putin uit, maar in Frans is dit Poutine en in Fries Pûtin.

Dit is dus duidelik dat tale die naam volgens hulle eie stelsels translitereer, dat die Engelse weergawe nie die enigste waarheid is nie en dat Die Burger se spelling vir Afrikaans dus volkome korrek is.


’n Gewysigde en verkorte weergawe van hierdie artikel het op 19 Maart 2022 in Die Burger en op Netwerk24 verskyn.