Maart 2022
Wat presies sou swak Afrikaans wees as daar nie reëls is oor hoe Afrikaans moet lyk nie, vra Suléne Pilon, voorsitter van die Afrikaanse Taalkommissie, na aanleiding van Max du Preez van Vrye Weekblad se onlangse nuusbrief oor die demokratisering van Afrikaans. Is die Afrikaans wat vir Max irriteer, swak? En is al die reëls waarvan hy nie hou nie, irriterend?
Max du Preez vaar in die VWB-nuusbrief van 21 Maart 2022 uit teen die “akademiese ooms” en “tantes” wat aan Afrikaanse taalgebruikers “wil voorskryf hoe algemeen beskaafde Afrikaans gebesig moet word”. Hy skryf dat dit nou oukei is om ander variëteite as Standaardafrikaans te gebruik (was dit ooit nié oukei nie?), en dat daar twee goed is wat hom as Afrikaansskrywer irriteer: “[M]ense wat uit pure luiheid swak Afrikaans besig, en die ewige gemaak van reëls oor hoe Afrikaans moet lyk.”
Wat presies sou swak Afrikaans wees as daar nie reëls is oor hoe Afrikaans moet lyk nie? Is die Afrikaans wat vir Max irriteer, swak? En al die reëls waarvan hy nie hou nie, irriterend? Dit is ironies dat hy dan self die res van sy skrywe wy daaraan om reëls te maak oor hoe Afrikaans moet lyk. Hy skets taalkundiges en taalpraktisyns as die vyande van die Afrikaanse sprekergemeenskap – asof ons met ons reëls daarop uit is om Afrikaanse mense se lewens so moeilik as moontlik te maak. Anders as Max, wat met sý reëls oor hoe Afrikaans behoort te lyk, die taal “demokratiseer”.
Wat ons hier nie uit die oog moet verloor nie, is dat dit eintlik maar net nog ’n voorbeeld is van die (deesdae) oorbekende verdagmakery van die wetenskap. Net soos wat ’n antivakser haar nie deur mediese kenners gaan laat voorskryf wanneer dit kom by mediese sake nie, gaan Max hom nie deur taalkenners laat voorskryf wanneer dit kom by taalsake nie.
Die realiteit is dat taalgebruikers kan doen net wat hulle wil wanneer hulle skryf. Niemand gaan vanaand by jou huis opdaag om rekenskap te vra van jou taalgebruik nie. Gaan dus gerus voort en gebruik Afrikaans nes jy wil. Solank jy besef dat jou taalgebruik potensieel gaan inmeng met die effektiwiteit van jou kommunikasie (daar is tallose groepies op sosiale media waar skryfsels gedeel word waarin die taalgebruik kommunikasie totaal en al belemmer). Vir dié taalgebruikers wat graag die konvensies van Standaardafrikaans wil volg, bestaan daar bronne, instansies en persone wat kan – en graag wil – help. En as jy geïrriteerd voel omdat ons wil help, is dit jou indaba. Hiermee sou ek eintlik kon volstaan, maar daar is ’n drietal aspekte in Max se skrywe wat myns insiens verdere bespreking regverdig.
Standaardafrikaans
Max is duidelik onder ’n wanindruk oor wat presies ons bedoel wanneer ons praat van “Standaardafrikaans”. Hy stel Standaardafrikaans op onsubtiele wyse gelyk aan “algemeen beskaafde Afrikaans” – ’n term wat lank reeds uitgediend is. In die voorwoord van die 2017-uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) word Standaardafrikaans beskryf as “ … die dinamiese, lewende produk van kontak tussen die verskillende variëteite wat in die Afrikaanse taalgemeenskap in den brede gebruik word.” Daar staan vervolgens ook eksplisiet dat die TK “die ontwikkeling en gebruik van al die variëteite van Afrikaans in verskillende kontekste” aanmoedig, omdat hierdie variëteite die onderbou en voedingsbron van die standaardvorm is.
Die TK beskou Standaardafrikaans dus as daardie variëteit van Afrikaans wat deur die grootste gedeelte van die Afrikaanse sprekergemeenskap verstaan word. Hierdie variëteit word meestal as hoëfunksie-kommunikasiemiddel gebruik, juis omdat dit onopvallend is, en daarom meestal die “boodskap” of die kommunikatiewe funksie van die teks vooropstel. Dit is tipies ook die variëteit wat in die media gebruik word. Standaardafrikaans is egter lankal nie meer ’n vooraf gedefinieerde variëteit wat van bo af op die skrywende volk afgedwing word nie. Die TK werk al vir meer as 10 jaar toenemend gebruiksgebaseerd, wat beteken dat ons ons besluite (en die irriterende reëls wat ons maak) op werklike taaldata baseer. Die Afrikaans in Vrye Weekblad is daarom per definisie Standaardafrikaans, omdat dit een van die bronne is waarna die TK kyk wanneer ons dié variëteit beskryf.
Max skryf ook dat daar by die oorspronklike Vrye Weekblad “ ’n hele paar heilige koeie slagpale toe gestuur” is, omdat hulle besluit het dat hulle gaan skryf soos hulle praat. Hierdie stelling is ’n klein giggeltjie werd, aangesien “skryf soos ons praat” al sedert die publikasie van die eerste AWS in 1917 een van die grondbeginsels van die Afrikaanse spelling is.
Biljoen/miljard
Iets anders waaroor Max kennelik trots is, is die feit dat VWB “biljoen” in plaas van “miljard” gebruik. Om kortliks te kontekstualiseer: Daar bestaan twee skale waarvolgens getalle benoem word, naamlik die kort skaal en die lang skaal. Die kort skaal tel miljoen (106), biljoen (109), triljoen (1012), kwadriljoen (1015), kwintiljoen (1018), ensovoorts. Die lang skaal tel miljoen (106), miljard (109), biljoen (1012), biljard (1015), triljoen (1018), ensovoorts. Die kort skaal word in Engelstalige lande gebruik en die lang skaal meestal op die Europese vasteland. In Suid-Afrika word die lang skaal wetlik voorgeskryf vir alle Suid-Afrikaanse tale, maar, in navolging van die Engelstalige wêreld, word die kort skaal dikwels in Engelse publikasies gebruik. Die lang skaal word (in navolging van die wet) in die AWS vir Afrikaans voorgeskryf.
Die besluit van ’n publikasie om goedsmoeds die kort skaal te gebruik, is, om verskeie redes, problematies. Hoofsaaklik omdat dit juis vir ingeligte lesers wat weet dat die lang skaal in Afrikaans gebruik moet word, verwarrend gaan wees. En van verwarring gepraat: Wat nou in VWB gebeur, is dat “biljoen” en “miljard” in dieselfde teks gebruik word om te verwys na 109, omdat “miljard” in ’n aanhaling gebruik is (byvoorbeeld hier).
Transliterasie
Daar is die afgelope weke baie oor transliterasie gepraat en gestry en gebaklei, en daar bestaan duidelik ’n persepsie dat transliterasie en verafrikaansing dieselfde ding is. Max skryf byvoorbeeld: “Transliterasie sê ons moet sulke name [verwysende na name wat met die Cyrilliese alfabet geskryf is] verafrikaans om die uitspraak te weerspieël.” Dit is nie die geval nie. Verafrikaansing is herspelling (‘respelling’), ’n proses waarmee gepoog word om die Afrikaanse uitspraak van ’n woord te weerspieël. Dit het aanleiding gegee tot Afrikaanse woorde soos “oukei”, “herrie” en “jogurt”.
Transliterasie, daarenteen, is die proses waarmee letters van een alfabet sistematies omgesit word na letters van ’n ander alfabet. Ons probeer dus om, sover moontlik elke letter in die on-Romeinse alfabet te vervang met ’n letter in die Romeinse alfabet. Hoekom is transliterasie dan taalspesifiek? Want letters word in verskillende tale met verskillende klankwaardes geassosieer. In Spaans, byvoorbeeld, word ’n h geassosieer met die klankwaarde wat in Afrikaans met die g soos in “gans” geassosieer word.
Hierdie verskille word geïgnoreer in die transliterasie van tale soos Chinees waarvoor daar internasionale transliterasievoorskrifte neergelê is. ’n Woord wat uit Chinees getranslitereer word, gaan daarom dieselfde lyk in alle tale wat die Romeinse alfabet gebruik. Vir ander tale (Grieks, Arabies, Russies en Oekraïens, byvoorbeeld) bestaan daar nie sulke internasionale voorskrifte nie. Tale wat die Romeinse alfabet gebruik, moet in sulke gevalle self transliterasieriglyne daarstel, en dan word die taalspesifieke klankwaardes wat met letters geassosieer word, wel in berekening gebring. Dit is daarom nie altyd geskik om gewoon te translitereer soos wat Engels translitereer nie. Dit werk weliswaar vir gevalle soos “Vladimir Putin” – ‘n eienaam wat al vir jare lank gereeld in Engelse publikasies gebruik word.
Wat moet ’n Afrikaansspreker egter maak met “Kyiv”? Hoe is ek veronderstel om dit uit te spreek? Kei-if? Kei-ief? Kei-iw? Want nog nooit het ek ‘n y teëgekom wat as “ie” uitgespreek word nie, en nog nooit het ek ’n i uitgespreek as “jie” nie. Dit is ook vreemd om ’n v aan die einde van ’n Afrikaanse woord te gebruik. Dit is onsinnig om die naam van die Oekraïense hoofstad só te spel in Afrikaans. Die Oekraïenstransliterasietabel wat voorlopig deur die TK goedgekeur is, bepaal dat ons moet skryf “Kijif”. Dit gaan dalk ook uitspraakprobleme tot gevolg hê, maar Afrikaanssprekers het darem al in woorde soos “identiteit” gesien dat ’n i as “ie” uitgespreek kan word. En, let op, ons translitereer dit nie as “Kiejief” nie – dit sou ’n voorbeeld van verafrikaansing wees.
Vrye Weekblad, Menings & debat: Lees dit ook hier
25 Maart 2022
‘Skoenmaker, hou jou by jou lees’
Ook Tom McLachlan, een van die ‘ooms’ wat Afrikaans skryf, vat Max du Preez aan oor sy ‘kontroversiële en betwisbare stellings’ oor Afrikaans na aanleiding van sy nuusbrief oor die ‘demokratisering’ van die taal. Lees Tom se brief hier.
Oor taalpuriste, kleinhuisiegate en stywe stokke
In sy nuusbrief van 21 Maart 2022 nooi Max du Preez lesers van Vrye Weekblad om oor Afrikaanse taalreëls te skryf. Wat pla? Wat pla nie? Hier is ’n keur uit van die ander reaksies.